Die VF Plus beskou die Tshwane-metro se hofaansoek teen private brandweerdienste om hul rol in te perk, as ’n katastrofiese mislukking van regering en ’n daad van prosedurele roekeloosheid, wat die gemeenskap aan onnodige gevaar blootstel.
Hierdie hofsaak, wat tans teen die Fidelity SecureFire en die Sinoville Brandbestrydingsvereniging gevoer word, word op aannames geskoei. Dit is lynreg in stryd met advies wat ek tydens my ampstermyn as burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid ingewin het.
Met sy optrede is die metro nou besig om die ernstige finansiële realiteite waarmee die departement gekonfronteer is, te ignoreer.
Die rol wat private dienste as ‘n komplimentêre mag kan speel deur reaksietye in geval van nood te verminder, word ook geminag.
Met dié aansoek toon die Tshwane-metroraad dat hy bewustelik besluit het om konflik uit te lok ten koste van die inwoners, aangesien dit binne sy mag is om ’n memorandum van verstandhouding (MVO) met private entiteite te vestig, en nie afhanklik is van die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA) nie.
Die metro word reeds deur sy derde stel regsverteenwoordiger vir dieselfde saak verteenwoordig, wat ‘n bewys is van interne wanbestuur en vermorsing van belastinggeld.
Tydens ʼn voorverhooraansoek in terme van Reël 30A van die hooggeregshof van Fidelity SecureFire het die hof bevestig dat die Stad ongemagtig applikante bygevoeg het, naamlik die departement van samewerkende regering en tradisionele sake. Nasionaal en Provinsiaal. Dit het reeds tot ‘n strafkostebevel teen die stad gelei. Hierdie prosedurele foute het aansienlike fondse van kritieke dienslewering weggeneem.
Die bewering in die hof dat privaat dienste onwettig verkeer blokkeer is absurd, aangesien tydelike padsluitings lewens en noodpersoneel beskerm.
Die standpunt dat privaat dienste nie water mag onttrek uit brandkrane nie, selfs in uiterste gevalle, is roekeloos. Die leerstuk van noodsaaklikheid wys daarop dat die red van lewe en eiendom altyd bo burokratiese prosedure moet geld.
‘n Bewering van die metro se regsverteenwoordiger dat ‘n subskripsie-model onwettig is, is verregaande aangesien dit ’n standaard kommersiële model vir gespesialiseerde dienste en nie ’n onwettige heffing is nie. Daar bestaan geen bepaling in die Wet op Brandweerdienste of ander wetgewing wat dit verbied nie en is dié model ’n wettige uitoefening van die reg om handel te dryf.
Die VF Plus eis dat die metro onmiddellik verdere regstappe oor hierdie aansoek staak en die besteding van openbare fondse aan vrugtelose regsgevegte beëindig.
Die VF Plus wil ook sien dat die munisipaliteit eerder met private verskaffers saamwerk deur middel van ‘n MVO, eerder as om teen dié ondernemings te werk.
Die VF Plus het reeds by verskeie geleenthede voorstelle aan die minister van Cogta gedoen om dringend die nodige regulasies op te stel en uit te vaardig wat die noodsaaklike regsraamwerk vir samewerking met private brandweerdienste sal bied.


