Die VF Plus verwelkom die uitspraak van die Vrystaatse hooggeregshof wat die provinsiale regering beveel het om dringend in te gryp by die wanfunksionele Ngwathe-plaaslike munisipaliteit (Edenville, Heilbron, Koppies, Parys, Vredefort).
Hierdie hofbeslissing bied ’n geleentheid om die wanbestuur en verval in die munisipaliteit om te keer, mits bekwaamheid die grondslag van die herstelplan vorm en nie politieke kaders nie.
Die verval van Ngwathe is die direkte gevolg van onbevoegde bestuur en die afwesigheid van verantwoordbaarheid. Inwoners ervaar dit daagliks in die vorm van watertekorte, sanitasiekrisisse en gebrekkige dienslewering. Die tyd vir simboliese ingryping is verby, daar moet nou daadwerklik en met kundigheid opgetree word.
Provinsiale administrasie is egter nie ’n waarborg vir sukses nie. In ses ander Vrystaatse munisipaliteite waar dieselfde model toegepas is (Mangaung, Tokologo, Mafube, Kopanong, Maluti-a-Phofung en Nala) het ingryping nie die gewenste resultate gelewer nie. Die aanwys van amptenare sonder plaaslike kennis of toepaslike ondervinding is telkens ’n resep vir mislukking.
Die VF Plus dring aan op ’n duidelik omskrewe en gedeelde herstelstrategie, met meetbare kort-, medium- en langtermyn doelwitte wat deursigtig gekommunikeer moet word aan die munisipale raad en gemeenskap.
Hierdie strategie moet ‘n volledige ontleding van personeel se vaardighede en ondervinding insluit, opleiding waar nodig, afdanking van onbevoegde personeel wat bygedra het tot die huidige krisis en realistiese planne om kontantreserwes op te bou vir instandhouding, opgradering en nuwe infrastruktuur.
Slegs dan sal dienslewering verbeter en kan inwoners van Ngwathe weer hoop hê aanvaarbare lewensomstandighede.
Die ANC se beleide van kaderontplooiing en regstellende aksie staan tussen mense en dienslewering. Solank hierdie beleide in plek is, het geen ingryping ’n werklike kans op sukses nie.
Wat nodig is, is bevoegde mense met ervaring in plaaslike regering en ‘n begrip van die unieke uitdagings van dorpe soos Parys, Vredefort, Heilbron en omliggende gebiede.
Die VF Plus verbind hom daartoe om bevoegde raadslede beskikbaar te stel en die herstelproses streng te monitor sodat inwoners nie weer die prys betaal vir politieke mislukkings nie.
Hierdie hofuitspraak moet die begin van ’n werklike ommekeer wees.


