Duisende inwoners van onder meer Bonanne, Bophelong en Stephanopark in Vanderbijlpark is weer sonder krag ná ʼn brand wat op 18 Junie by die Town-substasie uitgebreek het.
Dit is die vierde brand sedert 2018 by dié substasie.
Die VF Plus het in 2018 en 2024 met die hulp van ondernemings die dak en mure van die substasie in Curry Boulevard vervang nadat dit in ʼn brand vernietig is. In Mei vanjaar het ʼn derde brand uitgebreek en huishoudings vir dae sonder krag gelaat.
Inwoners ondervind benewens groot kragonderbrekings, weekliks kragonderbrekings weens elektriese foute by die substasie.
Die gevolge vir inwoners, klein ondernemings en onderwysinstellings is buitensporig en beïnvloed hul lewensgehalte negatief.
Die VF Plus het reeds ʼn formele klag by die munisipale bestuurder, mnr. April Ntuli, ingedien en geëis dat die substasie sodanig herstel word dat kragonderbrekings minimaal is. Tans bied die munisipaliteit net tydelike oplossings.
Die VF Plus en die gemeenskap dring aan op:
• Die onmiddellike en permanente herstel van die substasie;
• ‘n Onafhanklike ondersoek na die oorsake van die brande;
• Deursigtige kommunikasie van die munisipaliteit oor die pad vorentoe;
• Aanspreeklikheid van die oortreders of nalatigheid binne die munisipale strukture.
Die VF Plus het ook ʼn klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien rakende die onbillike behandeling wat die geraakte gemeenskappe van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit ontvang.
Die party is van mening dat die voortdurende versuim om die probleem op te los, ʼn skending van inwoners se menseregte is wat billike dienslewering aanbetref en menswaardigheid en ʼn veilige leefomgewing negatief raak.
Die VF Plus nooi alle benadeelde inwoners uit om ‘n vergadering vanmiddag om 18:00 in die park in Goodyearstraat in Cw5 by te woon.
Inwoners van Emfuleni-munisipaliteit kan nie langer slagoffers van vervalle infrastruktuur wees nie.