Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus se Amerikaanse sending skop vandag af met gesprek met invloedryke Hudson-instituut

Die VF Plus se Amerikaanse sending om met Withuis-amptenare en ander belanghebbendes gesprek te voer, skop vandag af met ‘n voorlegging aan die Hudson-instituut in Washington DC.

Die tema van die gesprek is; “’n Afrikaner-perspektief op VSA–Suid-Afrika-verhoudings” en vind plaas vanaf 13:00 tot 14:30 Washington-tyd (19:00 tot 20:30 SA-tyd).

Die Hudson-instituut is ’n invloedryke navorsingsorganisasie wat fokus op openbare beleid, nasionale sekuriteit, ekonomie en internasionale verhoudings.

Die instituut staan ‘n vrye mark en demokrasie voor en poog om strategiese debat te bevorder en oplossings vir globale uitdagings te vind. Hy adviseer beleidmakers en vorm menings deur wêreldwye gesprekvoering.

Op die webblad van die Hudson-instituut word die gesprek aangekondig deur te noem dat die “Afrikaner-gemeenskap van Suid-Afrika” onlangs aansienlike nuusdekking in die Verenigde State ontvang het sedert president Donald Trump aangekondig het dat hy aan Afrikaners vlugtelingstatus sal verleen.

Die inskrywing lui voorts dat hierdie en ander kwessies rakende die Afrikaners belangrike spanningspunte was in die verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika. Dit was die hoofpunte van bespreking tussen pres. Trump en Suid-Afrika se president Cyril Ramaphosa tydens hul onlangse vergadering in die Ovaalkantoor.

“Drie leiers van prominente Suid-Afrikaanse organisasies met sterk Afrikaner-lidmaatskap besoek die VSA om die sleutelkwessies te bespreek wat die verhoudings tussen Washington en Pretoria versteur. Hulle is:

“Dr. Corné Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, ’n sentrum-regse politieke party wat in die Suid-Afrikaanse parlement verteenwoordig is. Die VF Plus is deel van Suid-Afrika se regering van nasionale eenheid (RNE).

“Die party pleit vir minderheidsregte en selfbeskikking vir die Afrikaner etniese minderheid.

“Dr. Theo de Jager is uitvoerende hoof van die Suider-Afrika Agri Inisiatief (SAAI), ’n organisasie wat gesinsboere van alle etniese groepe in Suider-Afrika verteenwoordig. SAAI is ook deel van die Afrikaner Leierskapsnetwerk.

“Mnr. Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die Nasionale Werknemersvereniging van Suid-Afrika (Neasa), ’n toonaangewende organisasie wat sake-ondernemings in alle sektore verteenwoordig.

“Neasa is aktief gekant teen rasgegronde beleid soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en beskou dit as nadelig vir ondernemings en ekonomiese groei. Neasa is ook ’n lid van die Afrikaner Leierskapsnetwerk.”

Die VF Plus sien Suid-Afrika as ‘n land vol wonderlike mense en baie geleenthede. Daar kan en moet oplossings gevind word om die land weer vooruitstrewend te maak.

Suid-Afrika moet die ekonomiese mag van Afrika wees. Dit word tans nie bereik nie weens mislukte rasgegronde beleid wat teen die Afrikaner en ander minderhede diskrimineer en beleggers verdryf.

Ons is hier met die boodskap dat daar gewerk en gebou moet word om van Suid-Afrika weer ‘n wenland te maak. Dit is hierdie boodskap wat ons hard en duidelik aan die Amerikaners wil oordra.

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Ben van der Berg

Welverdiend steeds sonder krag

Die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) sleep steeds voete met die vervanging van ʼn transformator by die Frikkie-substasie in Welverdiend. Dié substasie, wat krag aan

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.