Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus weier om meer as R7,4 miljoen van Mangaung se bates te laat skrap

Die VF Plus het vandag tydens ‘n raadsvergadering van die Mangaung-metroraad geweier om in te stem dat meer as R7,4 miljoen se bates van die metro afgeskryf word.

Luidens ‘n eksterne ouditverslag kon 29,688 roerende bates nie geverifieer word nie.

Hierdie lys sluit onder meer in sowat 2,000 skootrekenaars en tafelrekenaars, sowat 5,000 stoele, 22 kragopwekkers, 437 gereedskapskiste, 258 bossieslaners, 72 konvensionele grassnyers, 14 ry-grassnyers en vele meer. Laasgenoemde grassnyers kos tot R130 000 een.

Dit is onaanvaarbaar dat bates van hierdie omvang sommer kan “verdwyn” sonder verantwoording.

Artikel 63 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet maak dit duidelik dat die munisipale bestuurder, in hierdie geval Sello More, verantwoordelik is vir die bestuur en beskerming van munisipale bates.

Hierdie verslag wys egter dat die afsonderlike afdelings in die munisipaliteit die batebestuursbeleid ignoreer en verkryging, beweging en verlies van bates nie behoorlik dokumenteer nie.

Die inwoners van Mangaung dra reeds die las van hoër tariewe en swak dienslewering. Deur hierdie afskrywing te aanvaar, word die boodskap gestuur dat miljoene rande se bates net kan verdwyn sonder enige gevolge.

Die VF Plus eis dat elke departement ‘n omvattende verslag aan die raad voorlê en dat dissiplinêre stappe geneem word teen amptenare wat versuim om hul pligte na te kom. Die munisipale bestuurder moet ook ʼn herstelplan voorlê om toekomstige verliese te voorkom.

Die inwoners van Mangaung verdien deursigtigheid, aanspreeklikheid en verantwoordelike bestuur van openbare fonds.

Totdat hierdie vereistes nagekom word, sal die VF Plus nie die tipe afskrywing steun nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.