Die verval van die Ekurhuleni-metro word duidelik uitgestippel in die vierde kwartaalverslag van die departement van diensleweringskoördinering wat vandag aan die raad voorgelê is.
Ten spyte van hoë diensleweringsteikens, ly inwoners onder swak beplanning, operasionele oneffektiwiteit en ’n gebrek aan aanspreeklikheid van verskeie departemente.
Krag- en wateronderbrekings asook vertraagde reaksie bly ’n daaglikse werklikheid, terwyl die administrasie sukkel om klagtes binne die standaard omkeertye op te los.
Die departemente van energie, finansies, menslike nedersettings, paaie en stormwater en water en sanitasie, sukkel om navrae betyds op te los.
Die VF Plus is van mening dat die 91 diensleweringsvergaderings tussen alle departementshoofde en raadslede nie probleme daadwerklik kon aanspreek aangesien inwoners steeds gereeld sonder dienste gelaat word.
Die VF Plus verkwalik die ANC/EFF-koalisie vir die prioritisering van politieke gewin bo inwoners se regte op betroubare dienste.
Die reeds oorlaaide gemeenskappe word gedwing om self hul omgewing te bestuur terwyl die stadsleiers onverantwoordelik optree.
Tussentydse krag- en waterlesings bly buitensporig, oproepsentrumklagtes hou aan, en die administrasie se wanorde is duidelik in al die departemente sigbaar. Dit is nie regeringsbestuur nie, dit is ’n sistemiese ineenstorting.
Die VF Plus doen ‘n beroep op die burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, om onmiddellik aanspreeklikheid, behoorlike toewysing van hulpbronne en doeltreffende dienslewering te prioritiseer.
Ekurhuleni-inwoners verdien ’n metro wat vir hulle werk, nie een waar dienste vertraag word, klagtes geïgnoreer word en basiese infrastruktuur verval terwyl politieke veldtogte voorrang geniet nie.
Die VF Plus sal aanhou om toesig te hou, leierskap aanspreeklik te hou en te op te staan vir die inwoners wat elke dag deur hierdie wanbestuurde administrasie in die steek gelaat word.


