Die VF Plus neem met groot kommer kennis van die gewelddadige protesoptrede in Bayland, ’n nedersetting in die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM), waar inwoners betoog weens ’n gebrek aan kragvoorsiening.
Tydens die protesoptrede is die M19 en R75 versper en twee vragmotors aan die brand gesteek.
Die VF Plus het reeds vroeër gewaarsku dat geweld en saakbeskadiging nie oplossings bied vir diensleweringsprobleme nie en dat streng opgetree moet word teen oortreders.
Inwoners wat hulself skuldig maak aan misdadige optrede soos die vernietiging van eiendom, moet in hegtenis geneem en voor die hof gebring word.
Dié soort gedrag bedreig die veiligheid van ander inwoners en motoriste en mag nie geduld word nie.
Protesoptredes soos hierdie is ‘n gereelde verskynsel in die NMBM en veroorsaak aansienlike ekonomiese skade in ʼn metro waar dienslewering reeds onder druk is.
Die VF Plus beklemtoon inwoners se reg om hul griewe rakende diensleweringsprobleme te lug, maar dit moet op ʼn ordelike en wettige wyse geskied.
Die diensleweringskrisis in die NMBM kan net voor die deur van die ANC/EFF-koalisieregering en die waarnemende stadsbestuurder, mnr. Ted Pillay, gelê word wat versuim om die nodige projekte aan te pak ten einde dienste aan alle inwoners te lewer.
Die VF Plus bly daartoe verbind om druk op die metro te plaas om diensleweringskwessies dringend aan te spreek.
Terselfdertyd doen die party ʼn beroep op inwoners en gemeenskappe om hul griewe direk met die metro op te neem en hulle nie tot geweld te wend nie.


