Die VF Plus waarsku al sedert 2014 die Gauteng-regering en die Gauteng se departement van behuising dat die behuisingskrisis in Gauteng gaan uitloop op geweld.
Dit waarteen die VF Plus gewaarsku het, is gister bewys deur die geweld wat in Eldoradopark in Johannesburg uitgebreek het omrede mense huise belowe is deur die Gauteng-regering en dit nie ontvang nie. Die party het die regering al verskeie kere gewaarsku dat hy nie sy beloftes, wat jaarliks deur premier David Makhura herhaal word, gestand sal kan doen voor 2019 nie omrede die behuisingsagterstand al so groot is dat dit langer as tien jaar gaan neem om die agterstand in te haal om nie eers te praat van dié wat so pas op 'n waglys geplaas is nie.
Die VF Plus se LPW in Gauteng en lid van die behuisingskomitee, mnr. Philip van Staden, het gesê dat die LUR, Paul Mashatile, en die Premier, David Makhura, sal verantwoordelikheid vir gister se geweld moet aanvaar.
"Dit is tyd dat die ANC verantwoordelikheid moet aanvaar vir die beloftes wat hul maak. Daar kan nie aan mense huise belowe word as die LUR en die Premier ten volle bewus is daarvan dat dit onmoontlik is om die behuisingskrisis voor 2019 op te los nie.
“Volgens inwoners wat gisteraand op TV-nuus verskyn het, woon daar tot tien gesinne tans op 'n erf in Eldoradopark wat wag vir behuising nadat dit aan hulle belowe was. Die VF Plus voel sterk dat die LUR, die Premier, die nasionale regering en die ANC uiters onverantwoordelik raak met valse beloftes.
“Die VF Plus is van mening dat die inwoners van Gauteng oral gaan begin opstaan en hul stemme gaan begin dik maak oor die behuisingskrisis waarin Gauteng hom tans bevind. Dit gaan ongelukkig veroorsaak dat geweld orals deur die provinsie gaan uitbreek.
"Munisipaliteite, ongeag wie regeer, kan nie behuising aan inwoners voorsien nie. Dit is die taak van die provinsiale regering. Plaaslike raadslede wat ook huise belowe moet vasgevat word aangesien dit nooit gaan realiseer nie.
“Die VF Plus dring aan op die bedanking van Paul Mashatile as LUR van Behuising in Gauteng aangesien hy nie bevoeg is om die departement van behuising te bestuur nie en sedert sy aanstelling as LUR nog nooit sy gesig in 'n behuisingskomitee gewys het nie,” het Van Staden gesê.
Tel: 084 015 4722 / 060 556 4347 / 012-772 4410
Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za