Die hof se besluit om borgtog toe te staan aan die twee mans van Coligny wat tereg staan op die moord van ‘n tienerseun, is gegrond op gesonde regsbeginsels en in die lig daarvan is dit betreurenswaardig dat Noordwes se premier die voorval as rassisme probeer uitbeeld, sê Michal Groenewald, leier van die VF Plus in Noordwes.
Die twee mans, Pieter Doorewaard en Phillip Schutte, is pas vrygelaat op borgtog van R5 000 elk en moes hul paspoorte inhandig.
Groenewald sê die VF Plus vra dat die res van die saak nou ongehinderd sy gang moet gaan, en dat mense soos premier Supra Mahumapelo hom van verdere rassistiese uitlatings moet weerhou.
Mahumapelo het luidens ‘n mediaberig op die begrafnisdiens van die seun onder meer gesê die seun is dood “in die hande van wit mense”. Hy het ook gesê die mense “in wie se hande” die seun was met sy dood, is “Suid-Afrikaners en Afrikaners van Coligny”.
Volgens Groenewald kan dit die gemoedere opjaag indien Mahumapelo met sulke uitsprake voortgaan, en die premier sal dan pa moet staan indien daar weer gewelddadige betogings rondom die saak ontstaan.
“Wanneer wit persone deur swartes vermoor word, is dit gewone misdaad. Wanneer die situasie omgekeerd is, maak die ANC rassisme daarvan. Dit is onaanvaarbaar.
“Mahumapelo kan gerus sê hoeveel begrafnisdienste van vermoorde wit boere in die provinsie hy al bygewoon het en wat hy daaroor te sê gehad het.
“Die VF Plus verwelkom die hof se siening dat hy nie sal swig voor die intimidasie van oproermakers nie. Suid-Afrika is ‘n regstaat en dit sou kommer wek indien regspleging in die saak wel daardeur beïnvloed sou word.
“Die VF Plus wil benadruk dat die reg nie net in hierdie saak nie, maar in alle strafsake in Suid-Afrika, sonder enige inmenging of intimidasie toegelaat moet word om sy gang te gaan,” sê Groenewald.
Kontaknommers: 079 409 8342