(Ledeverklaring in Gauteng-wetgewer)
Die VF Plus het tydens ‘n virtuele sitting van die Gautengse wetgewer gewaarsku teen die ongrondwetlike optrede van die administrateur van die Tshwane-metroraad wat ernstige gevolge vir die provinsie kan inhou.
Die Grondwet maak voorsiening vir die aanstelling van ‘n administrateur om korttermyn-stabiliteit in die metroraad te bring en nie om die raad oor te neem nie. Die toegelate 90-dae tydperk van die Tshwane-administrateur het reeds verval en gevolglik is enige besluit wat nou geneem word, ongrondwetlik.
Die administrateur het verder gefouteer deur ‘n volledig aangepaste begroting vir die metroraad goed te keur en aan die provinsiale wetgewer oor te dra. Dit is teenstrydig met die Grondwet wat aandui dat slegs ‘n munisipale raad ‘n volwaardige begroting kan goedkeur. Kragtens Artikel 139(1)(c) van die Grondwet word 'n administrateur slegs in uitsonderlike gevalle aangestel met baie beperkte magte. Die aanstelling van 'n nuwe munisipale bestuurder en die daarstelling van begrotings is beslis nie deel van 'n administrateur se toelaatbare take nie.
Indien die begroting in die hof op hersiening geneem word, kan die Gauteng-provinsie hiervoor verantwoordelik gehou word. Die feit dat die Tshwane-administrateur 'n begroting sonder 'n funksionele raad goedgekeur het, het tot gevolg dat die provinsiale begroting van Gauteng, wat die Tshwane-metroraad insluit, ook ongrondwetlik is.
Die provinsiale wetgewer het raadslede van die Tshwane-metroraad gefaal deur nie hul salarisse terugwerkend te betaal alvorens die metroraad onder provinsiale administrasie geplaas is nie. Raadslede se salarisse is met die aanstelling van die administrateur gestop alhoewel verkose raadslede steeds op grondvlak hul kiesers bedien.
Die magsbeheptheid van die ANC-regering kom belastingbetalers duur te staan en kan die metro se ekonomie 'n finale nekslag toedien indien die metroraad nie spoedig herstel word en ten volle funksioneer nie.
In Gauteng is daar munisipaliteite wat in ‘n veel ernstiger finansiële penarie verkeer as die Tshwane-metro en wat eerder ingryping benodig.
Die aksies van die ANC blyk eerder 'n voorverkiesing-magspel te wees om die grootste metro wat deur 'n koalisie van opposisiepartye regeer was, in hulle mag te kry as om die funksionaliteit van die metro aan te spreek.
Die VF Plus is ernstig oor sy verantwoordelikheid teenoor gemeenskappe en sal onverpoos veg vir hul belange.
Die party sal elke besluit wat die aangestelde administrateurs neem noukeurig volg en die LUR van plaaslike regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, tot verantwoording roep vir elke aksie wat buite die raamwerk van die Grondwet en nie in belang van inwoners is nie.
Navrae: 071 604 9498