Die VF Plus het die Mpumalanga-wetgewer se etiekkomitee versoek om ondersoek in te stel na die intimidasiebewerings wat ʼn lid van die publiek gemaak het teen die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), mnr. Mandla Msibi.
Dié klag moet behoorlik ondersoek word en toepaslike stappe moet geneem word indien nodig.
Die polisie het hierdie week bevestig dat ene mnr. Skhumbuzo Nkosi ‘n klag by die Pienaar-polisiekantoor ingedien het na aanleiding van ‘n padwoede-voorval in Julie waartydens mense verbonde aan die LUR hom glo aangerand en ‘n vuurwapen op hom gerig het.
Mnr. Nkosi beweer dat mnr. Msibi hom ná die voorval geskakel het en hom ondervra en gedreig het met betrekking tot die aanklagte. Daar is glo ook ‘n opname van die gesprek aan die polisie oorhandig.
Dit is nie die eerste keer dat die LUR by ernstige beskuldigings betrek word nie. Msibi is in Augustus 2021 van dubbele moord aangekla ná ‘n voorval in Mbombela. Die moordklag is verlede jaar teruggetrek weens ‘n gebrek aan bewyse.
In 2019 het hy tereggestaan op aanklagte van onder meer gewelddadige aanranding, poging tot moord, opsetlike saakbeskadiging en roof. Hy is van dié aanklagte vrygespreek.
Die VF Plus eis dat die jongste intimidasieklag nie net deur die polisie nie, maar ook deur die etiekkomitee van die wetgewer ondersoek word.