Nóg ‘n aanval op ‘n kleinhoewe in Mpumalanga laat die rooi ligte flikker en dit is duidelik dat dié provinsie ’n teiken is vir plaasaanvallers.
’n Bejaarde vrou, die 75-jarige me. Adele Kimble, is Dinsdagaand oorval en wreed aangerand in haar kleinhoewe-woning op die Uitkykpad in die Mbombela-plaaslike munisipaliteit.
Dié aanval volg skaars twee weke na die plaasmoord van mnr. Theo Bekker en die aanranding van sy vrou op hul plaas in die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit.
Die VF Plus het ‘n dringende skrywe met pertinente vrae en voorstelle aangaande landelike veiligheid gerig aan die provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid, mnr. Vusi Shongwe.
Luidens ‘n verslag wat AfriForum uitgereik het, is geen inhegtenisnemings vir plaasmoorde met suksesvolle vervolging gedurende 2022 in Mpumalanga gemaak nie. Vanaf Januarie tot Maart hierdie jaar was daar reeds agt ernstige plaasaanvalle in die provinsie.
Die aanslag op plase en kleinhoewes laat geen ruimte vir twyfel dat die swak vervolgingspersentasie geen afskrikmiddel is nie. Die VF Plus eis dat mnr. Shongwe verduidelik waarom die reaksie en optrede van die plaaslike polisie so traag is aangaande plaasaanvalle.
Die VF Plus wil weet wat die statistieke vir inhegtenisnemings en suksesvolle vervolgings vir Januarie 2023 tot op hede is. Vonnisoplegging vir hierdie wrede misdade moet so streng as moontlik toegepas word as ‘n afskrikmiddel.
Aangesien slegs ‘n paar verdagtes aangekeer is, sal die plegers van hierdie dade waarskynlik voortgaan met hul misdade.
Dit is onaanvaarbaar dat die ANC-regering indirek plaasaanvalle goedkeur met sy stilswye en versuim om op te tree.
Die VF Plus doen ’n hernude beroep op gemeenskappe in Mpumalanga om betrokke te raak by hul plaaslike veiligheidsstrukture.