fbpx
Vryheidsfront Plus

Kwytskelding van Zuma wys Ramaphosa was van meet af oneerlik daaroor

Die kwytskelding wat pres. Cyril Ramaphosa aan oudpres. Jacob Zuma verleen het, wys op sy oneerlikheid oor die aangeleentheid aangesien hy twee jaar gelede ʼn direkte vraag van die VF Plus oor die moontlikheid van kwytskelding ontduik het.

In Februarie 2021 het ek ná die president se staatsrede aan hom gevra of hy Zuma se vrylating gaan bewerkstellig deur presidensiële kwytskelding.

Hy het die vraag gesystap en ek het aan hom gesê sy weiering om te antwoord beteken dit is wel op die kaarte, veral ná die destydse besoek van die minister van polisie, Bheki Cele, aan Zuma by sy woning op Nkandla.

Wat nou gebeur het, wys dat ek reg was. Presidensiële kwytskelding is die hele tyd as laaste troef gehou sou die ander planne om Zuma se vrylating te bewimpel, soos sy vroeë parool weens ʼn sogenaamde siektetoestand, misluk.

Dit wys verder dat die kwytskelding van 9 000 ander misdadigers bloot deel is van die plan om een persoon tegemoet te kom.

Gegewe die ernstige misdaadprobleem in Suid-Afrika is dit ʼn klap in die gesig van wetsgehoorsame burgers wat swaar onder misdaad ly om te sien hoe duisende misdadigers voortydig vrygelaat word net om Zuma te akkommodeer.

Indien die president kwytskelding nie oorweeg het nie, kon hy eerlik daaroor gewees het deur reguit te sê dit gaan nie gebeur nie. Ek het in Februarie 2021 al gesê kwytskelding aan Zuma sou vir die VF Plus totaal onaanvaarbaar wees.

Die boodskap wat deur hierdie optrede uitgestuur word, is verkeerd. Dit wys dat die ANC op gewone landsburgers sal trap en gevoelloos staan teenoor hul regte en veiligheid net om ʼn kader uit die tronk te hou.

Onlangse gebeure in Suid-Afrika het duidelik gewys dat die wêreld se oë op die land en veral op die ANC-regering gerig is: Van die interaksie met die Russe tot Julius Malema se uitsprake oor geweld en vrae oor die president se swye daaroor.

Hierdie kwytskelding van Zuma is ʼn verdere bewys dat die ANC nie ʼn regering is vir al die mense van die land nie en dat die president die ANC bo die land en sy mense stel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.