Die VF Plus verwelkom die besluit dat die Mosselbaaise munisipale bestuurder, mnr. Colin Puren, R573 805.75 wat onregmatig deur die Mosselbaaise plaaslike munisipaliteit aan hom betaal is, moet terugbetaal.
Puren moet dié bedrag terugbetaal vanaf 30 September tot 28 Februarie 2027 wanneer sy termyn as munisipale bestuurder tot ʼn einde loop.
Die Mosselbaaise raad het in Februarie die burgemeester, Dirk Kotze, volmag gegee om namens hom die munisipale bestuurder aan te stel en oor sy salaris te onderhandel.
Kotze het egter nie die skrywes van die Wes-Kaapse minister vir plaaslike regering, Anton Bredell, en die destydse nasionale minister vir plaaslike regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, aan die raad bekendgemaak nie.
In dié skrywes beveel beide aan dat mnr. Puren nie op die hoogste salarisskaal aangestel mag word nie, maar teen ʼn laer salarisskaal.
Die ongerymdhede met Puren se aanstelling sou nie aan die lig gekom het indien ʼn voormalige DA-raadslid, Anco Barker, nie die fluitjie daaroor geblaas het nie.
Dit het die VF Plus en ander opposisiepartye genoop om strafregtelike klagte van bedrog en korrupsie teen die DA-koukus in die Mosselbaaise raad in te dien.
In ʼn ongewone stap tydens ʼn spesiale raadsvergadering op 10 Augustus 2023 het Kotze ʼn dringende mosie oor die aanstelling van Puren voor die raad gebring.
Die skrywes wat vroeër onregmatig van die raad weerhou is, was nou deel van die item.
Die raad het besluit om die vorige salarispakket van Puren te herroep en dat hy op die minimum salarisskaal vir munisipale bestuurders aangestel word.
Alles in ag genome en die DA se ontkenning van enige ongerymdhede, is die besluit dat Puren gelde moet terugbetaal wat hy onregmatig verdien het, ʼn skulderkenning dat die aanstelling op die hoogste salarisskaal onregmatig was en dat die raad doelbewus daaroor bedrieg is.
Die VF Plus is tevrede dat die oorbetaling verhaal gaan word, maar is steeds van mening dat die burgemeester en sy raadslede onregmatig opgetree het en sal die verloop van die strafregtelike klag fyn dophou.