fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus vra OB om adjunkpresident se seuns te ondersoek

Die VF Plus het die openbare beskermer (OB) gevra om die Gautengse regeringskontrakte met die adjunkpresident, Paul Mashatile, se seuns te ondersoek.

Die adjunkpresident is die laaste tyd gereeld in die nuus oor sy uitspattige leefstyl en verdagte staatskontrakte wat aan sy familie toegeken word.

Luidens berigte op Netwerk24, het Mashatile se seuns, Thabiso Mashatile en Tinyiko Mvelase, in ʼn kwessie van drie maande drie kontrakte ontvang van die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling. Beide was direkteure van Ngwato en Manzi Group ten tyde met die toekenning van die kontrakte.

Volgens die reg is dit nie noodwendig problematies as ʼn regerings- of verkose amptenaar se familie en vriende dienste of goedere aan die regering lewer nie, maar dan moet hulle aangestel gewees het op meriete om die betrokke goedere of dienste te kan lewer teen ʼn billike koste wat beter is as enige van die ander ondernemings wat vir die tersaaklike kontrakte getender het.

Artikel 217 van die Grondwet vereis dat die regering dienste en goedere moet verkry op grond van regverdigheid (fairness), billikheid (equitability), deursigtigheid en op ʼn kompeterende en koste-effektiewe basis.

Die VF Plus vind dit egter vreemd dat die twee seuns van die adjunkpresident direkteure van die maatskappy Ngwato and Manzi Group geword het in die tydperke wat die tenders toegeken was.

Netwerk24 se ondersoek dui aan dat Thabiso Mashatile ʼn direkteur van die maatskappy was toe twee tenders in Maart 2022 toegeken is. Hy het egter net twee maande daarna op 10 Mei 2022 as direkteur bedank.

Op dieselfde dag word Tinyiko Mvelase as direkteur aangestel. Volgens Netwerk24 se ondersoek was sy aanstelling bloot ʼn maand voordat nog ʼn kontrak op Junie 2022 deur die Gautengs departement van infrastruktuurontwikkeling aan Ngwato and Manzi Group toegeken is.

Op 10 November 2023 bedank Mvelase as direkteur.

Op die oog af blyk dit of die adjunkpresident se twee seuns op belangrike tye direkteure van die Ngwato and Manzi Group geword het ten einde meer politieke gewig te gee aan die maatskappy se tender-aansoeke by die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling.

Daar is ander feite wat ook vreemd opval en moontlik daarop kan dui dat die kontrakte toegeken is aan ʼn maatskappy wat nie werklik in staat is om die werk te verrig nie.

Tans is die enigste direkteur van Ngwato en Manzi Group ʼn 24-jarige jong dame, Thato Nokaneng, wat volgens haar TikTok-profiel werkloos is.

Die drie kontrakte wat aan die maatskappy toegeken is behels hoogs tegniese en kundige werk, naamlik die verkryging en lewering van outoklaaf-toerusting (wat stoom onder hoë druk gebruik om items te steriliseer), boumateriaal en brandmonitering en -bestrydingsdienste.

Die vraag bestaan of Nokaneng oor die kundigheid beskik om hierdie dienste en goedere te lewer.

Die geregistreerde kantoor van die maatskappy is boonop ʼn woonhuis in Alexandra, ʼn voorstad van Johannesburg.

Die vrae kan egter net beantwoord word deur ʼn ondersoek om vas te stel of die maatskappy voldoen het aan die vereistes gestel in terme van artikel 217 van die Grondwet, asook ander tersaaklike verkrygingsvereistes gestel in die tesourie se verkrygingsregulasies ingevolge die Openbare Finansiëlebestuurswet, die regulasies uitgevaardig ingevolge die Voorkeur Verkrygingsbeleidraamwerkwet 5 van 2000 (Preferential Procurement Policy Framework Act 5 van 2000), en die provinsiale regering se eie verkrygingsbeleid.

Indien daar afgewyk was van die verkrygingsvereistes, kan dit daarop dui dat die aanstelling van die twee seuns van die adjunkpresident gedoen was om die toeken van die kontrakte in die maatskappy se guns te swaai.

Die VF Plus vra ook verder dat die OB moet ondersoek watter voordele Thabiso Mashatile en Tinyiko Mvelase moontlik persoonlik uit die toekenning van die regeringskontrakte kon verkry het.

Die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling is wel bekend as die swakste presterende departement van die provinsiale regering wat veral berug is vir die stadige tempo waarteen skoolinfrastruktuur gebou word en vir die vertraging van belangrike infrastruktuurprojekte in Gauteng.

Daarom kan dié departement dit nie bekostig om diensverskaffers aan te stel wat nie projekte op standaard, binne tyd en binne die begroting suksesvol kan afhandel nie.

Die VF Plus vertrou dat die OB-ondersoek meer duidelikheid sal verskaf oor die reëlmatigheid van die aanstelling van die Ngwato and Manzi Group en die aard van die betrokkenheid van die adjunkpresident se twee seuns by die maatskappy en die suksesvolle toeken van drie provinsiale regeringskontrakte.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.