fbpx
Vryheidsfront Plus

Sandrivierbrug moet spoedig herstel word om verkeersramp te voorkom

Die VF Plus het die Polokwane-plaaslike munisipaliteit (Pietersburg) se munisipale bestuurder, me. Thuso Nemugumoni, in ’n skrywe gewaarsku om die munisipaliteit se dispuut met ’n kontrakteur oor die konstruksie van die Sandrivierbrug op te los om ʼn verkeersramp te voorkom.

Die dispuut het ontstaan toe die verkeerde grootte steunbalke bestel is. Niemand wil die verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie.

Steunbalke is vervaardig en afgelewer volgens die planne soos opgestel deur die ingenieur, maar die korrekte lengte is nie geverifieer nie.

Die projek staan nou al vir etlike maande stil.

Die Sandrivierbrug is deel van die besige Nelson Mandelarylaan en die gevaar bestaan dat die brug soos dit tans daar uitsien, onder die gewig van swaar voertuie kan meegee.

Die munisipaliteit het juis die bou van hierdie deel van die rylaan geprioritiseer om vragmotors uit die sentrale sakedeel van Pietersburg te herlei.

Die vertraging van die projek verhinder ook die installering van ʼn kragkabel onderdeur die brug na ’n 11kw-substasie in ‘n gebied wat gebuk gaan onder gereelde kragonderbrekings.

Die brugprojek asook die oprig van die substasie is gefinansier, maar weens die onopgeloste dispuut moes fondse aan die nasionale tesourie teruggegee word vir hierdie twee projekte.

Die munisipaliteit moet nou in sy eie diensleweringsbegroting delf om die projekte te voltooi.

Polokwane se munisipale openbare rekeningekomitee (MPAC), waarvan die VF Plus ’n lid is, het in Desember 2023 die munisipaliteit 30 dae gegun om die dispuut op te los.

Omdat die munisipaliteit versuim het om daarin te slaag, het die komitee weer in Januarie 2024 ’n oorsigbesoek gedoen.

Solank die brugprojek onafgehandel bly, gaan die substasie en die kabel gevandaliseer word wat die munisipaliteit ernstige skade gaan berokken.

Die party sal sy skrywe aan me. Nemugumoni opvolg en sal aanhou veg vir Pietersburg-inwoners en motoriste se veiligheid.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.