Die VF Plus het kritieke vrae oor die besoedeling van die Olifantsrivier by Middelburg weens onwettige storting en rioolvloei by die Steve Tshwete-plaaslike munisipaliteit (Hendrina, Middelburg, Pullens Hope, Rietkuil) ingedien.
Onverwerkte riool wat al vir sowat vyf jaar vanaf vleilande vloei en uiteindelik in die Olifantsrivier beland, hou nie net ‘n gesondheidsgevaar vir mens en dier nie in nie, maar skep ook ‘n groot omgewingsgevaar.
Die VF Plus meld gereeld verstopte rioolpype by die munisipaliteit aan wat – indien dit nie dadelik herstel word nie – riool by mangate laat uitstroom en in erwe, strate en omliggende vleilande laat beland.
Boere in die omgewing wat van rivier- en boorgatwater afhanklik is, kan nie die besoedelde water gebruik nie en is genoodsaak om vars water op grootmaat aan te koop en na hul plase te vervoer.
Die VF Plus hanteer ook dikwels klagtes van inwoners oor die rioolbesoedeling en onwettige storting in die vleilande sonder dat die munisipaliteit ‘n poging aanwend om die probleem op te los.
Steve Tshwete-munisipaliteit moet antwoorde verskaf oor die nalatigheid en wanbestuur van die rioolaanleg.
Die storting van riool in belangrike waterbronne is uiters onverantwoordelik en is niks anders nie as sabotasie van een van die munisipaliteit se heel belangrikste hulpbronne.
Verskonings van gebreekte pompe, stukkende en verouderde infrastruktuur en ‘n gebrek aan finansiële en ander hulpbronne word gereeld voorgehou, terwyl die munisipaliteit homself dikwels skuldig maak aan die onderbesteding van die voorwaardelike infrastruktuurtoekennings.
Die enigste oplossing vir die plaaslike rioolkrisis is die privatisering van die rioolaanlegte.
Die VF Plus eis dat rioolaanlegte aan kundige en bevoegde maatskappye oorgedra word sodat dit gereguleerd en volgens gesonde sakebeginsels bestuur kan word.