Die ANC-burgemeester in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit, Gaba Ka Qhele, het vandag tydens ‘n raadsitting ‘n mosie van wantroue met die steun van die EFF in die raad oorleef.
Die mosie is teen hom en die speaker in die raad, Messo Dassie, gebring weens die verdere agteruitgang van munisipale dienslewering in die munisipaliteit.
Ten spyte van vele beloftes gaan die inwoners in die JB Marks-munisipale gebied steeds gebuk onder gereelde onderbrekings in dienslewering, vanaf waterverskaffing tot kragonderbrekings.
Die instandhouding van infrastruktuur word steeds nie geprioritiseer nie en munisipale werktuie en toerusting raak in ‘n onbruikbare toestand weens ‘n gebrek aan onderhoud.
Die VF Plus het in terme van wetgewing en gesag daarop gewys dat ‘n waarnemende speaker deur die raad aangewys moet word vir die hantering van die mosie.
Dassie het egter voortgegaan en onreëlmatig self ‘n ANC-raadslid as waarnemende speaker aangewys en ook ingemeng met die demokratiese proses rondom die mosie.
Die VF Plus en ander opposisiepartye in die raad het die wantroue-mosie gesteun, maar die EFF het aan die ANC die nodige steun gegee om die mosie af te weer.
Vyf EFF-raadslede het buite stemming gebly, welwetende dat dit aan die ANC die nodige meerderheid in die raad sal verskaf.
Hierdie samespanning tussen die ANC en die EFF hou ‘n bedreiging vir dienslewering in JB Marks in en dien suiwer die belange van ‘n handvol plaaslike politici.
Die welstand van die gemeenskappe in Potchefstroom en Ventersdorp speel geen rol in hul besluitneming nie.
Die inwoners van JB Marks verdien beter as die ANC en sy nuutgevonde alliansievennoot, die EFF.