Met die VF Plus se onlangse water- en riooloorsigtoer in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging), is daar gevind dat daar geensins ‘n verbetering die afgelope vier jaar in die water- en rioolkrisis is wat die munisipaliteit teister nie. Infrastruktuur is ook steeds ontoereikend.
Die party besoek een keer per jaar al die water- en rioolpompstasies, pypleidings, strome en damme om vas te stel of daar ‘n verbetering in die situasie is.
Verskeie departemente het sonder sukses by die Emfuleni-munisipaliteit probeer ingegryp, waaronder die nasionale departement van water en sanitasie onder leiding van die destydse minister, Lindiwe Sisulu, Randwater, die menseregtekommissie (MRK) en die Suid-Afrikaanse weermag.
Die VF Plus het dit onlangs benadruk dat Randwater se leen van sewentien bakkies in Mei vanjaar aan die Emfuleni-munisipaliteit om die omvangryke waterkrisis op te los, nie voldoende is nie.
Die kontrak verval eerskomende maand en niks is gedoen nie.
Die bakkies word deur Randwater gehuur en aan Emfuleni beskikbaar gestel as deel van die Artikel 63-proses van die Nasionale Waterdienstewet ingevolge waarvan die nasionale departement van water en sanitasie volledig beheer geneem het oor alle waterbronne in die munisipaliteit.
Miljoene is ook van nasionale tesourie ontvang om die onderskeie pompstasies te herstel, maar verskeie is nog buite werking.
Gedurende die toer is opgemerk dat spruite waarin riool voorkom, na damme vloei wat verdere besoedeling veroorsaak.
Die VF Plus sal nooit ophou om op elke platform druk op die Emfuleni-munisipaliteit te plaas en so te sorg dat die munisipaliteit se infrastruktuur behoorlik in stand gehou word en belastingbetalers se welverdiende geld nie vermors word nie.
Emfuleni se inwoners verdien beter as die ANC wat die munisipaliteit in die afgrond in bestuur het.