Planne om mobiele polisiekantore in die Kaapse metropool en op dorpe in die platteland te vermeerder is prysenswaardig, maar nie die antwoord op die provinsie se misdaadprobleem nie, sê mnr. André Fourie, VF Plus-raadslid vir die Stad Kaapstad.
Mnr. Fourie sê opsigtelike polisiëring is die enigste manier om misdadigers aan bande te lê, en ‘n paar ekstra administratiewe polisiemanne agter lessenaars of in karavane gaan misdadigers nie die skrik op die lyf jaag nie.
Die Wes-Kaapse ministerie vir gemeenskapsveiligheid het pas aangekondig dat die volgende gebiede in die Metro polisiekantore ontvang het:
Mowbray, Khayelitsha, Groenpunt, Claremont, Seepunt, Epping, Wynberg, die nywerheidsgebied by die lughawe, Maitland, die sentrale sakegebied in Voortrekkerweg, Athlone, Vredekloof, Blackheath, Observatory, Parow, Muizenberg, Woodstock, Stikland, en die sentrale sakegebied in Kaapstad.
Plattelandse dorpe wat mobiele polisiekantore ontvang het is Caledon, Villiersdorp, Knysna en Stellenbosch.
Mnr. Dan Plato, die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, sê dit word gedoen om ‘n sigbare teenwoordigheid van die polisie te skep en sal aanvullende dienste soos die sertifisering van dokumente en die aflê van verklarings skep.
Mnr. Fourie sê dit is goed dat die diens uitgebrei word, maar wat die publiek wil sien, is dat misdaad aktief bestry word.
“Misdadigers gaan hulle nie by die mobiele polisiekantore aanmeld nie. Hulle moet op straat gejag word. Dit is die ware probleem, en die publiek sal dit veel eerder wil sien as nog ‘n plek waar ‘n dokument beëdig kan word.
“Indien daar wel ‘n behoefte is aan administratiewe hulp soos die beëdiging van dokumente of maatskaplike hulp vir huismoles en ander gemeenskapsprobleme, kan daar by die stadsraad se kantore voorsiening daarvoor gemaak word. Polisiemanne is vir polisiëring en vir misdaadbekamping.
“Wat ons nodig het, is polisiemanne wat tussen die publiek beweeg. Hetsy te voet, in voertuie of op watter manier ook al. Die tipiese ‘bobby on the beat’. Dit sal misdadigers afskrik en die publiek meer gerus laat voel,” sê mnr. Fourie.
Kontaknommer: 083 441 9262