“Die polisie se voorlegging voor die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie rakende die sentrale vuurwapenregister-kantoor (SVR) dui op gebrekkige kontrole en is kommerwekkend. In die voorlegging dui die polisie aan dat daar nie behoorlike kontrole oor vuurwapens is wat by aangewese vuurwapenbeamptes (AVB) by polisiekantore ingedien word nie. Dokumente van hernuwings van vuurwapenlisensies raak verlore omdat dit nie op die rekenaarstelsel aangeteken word by aanvaarding nie, daar ’n tekort aan personeel is om inspeksies uit te voer asook onbevoegde AVB’s. Hierdie gebreke skep ’n teelaarde vir misdaad en die SVR laat die publiek in die steek,” sê dr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van polisie vir die Vryheidsfront Plus.
“Die minister van polisie, Nkosinathi Nhleko, het verlede week gesê dat daar te veel vuurwapens in Suid-Afrika is en geweldsmisdaad bevorder. Die minister dwaal en dit is nie wettige vuurwapeneienaars wat die probleem is nie, maar die swak beheer van vuurwapens en -lisensies deur sy eie departement. Net meer as R400 miljoen is bestee aan die rekenaarstelsel, maar steeds funksioneer dit nie behoorlik nie. Die minister is ’n verskoning aan wettige vuurwapeneienaars en ’n verduideliking aan die publiek verskuldig,” het Groenewald gesê.
Sel: 083 627 4397