Die VF Plus het die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), Lebogang Maile, versoek om ondersoek in te stel na die voortdurende rioolstortings in Fochville en om maatreëls in te stel om die probleem op te los. Die dorp gaan reeds meer as ‘n jaar lank gebuk onder riool wat vrylik deur woonbuurte en parke vloei.
Die VF Plus in Fochville skakel feitlik daagliks met die munisipaliteit se water- en sanitasie-departement, wat op hul beurt pogings aanwend om gebreekte pypleidings te herstel.
Die Merafong-plaaslike munisipaliteit wat dorpe soos Fochville, Carletonville, Blyvooruitsig, Wedela en Khutsong bedien, is onder finansiële druk en kan nie bekostig om rioolstelsels te vervang en nuwe rioolaanlegte te bou nie.
Riool vloei tans in Ouhoutstraat, deur die Piet Retiefpark na Danie Theronstraat wat in die Enslinspruit beland en daarna weggevoer word na die Mooirivier wat uiteindelik Potchefstroom bereik.
Die Merafong-munisipaliteit is nie die enigste munisipaliteit in Gauteng wat geweldige rioolprobleme ondervind nie. Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) wat onder gedeeltelike administrasie is, gaan ook gebuk onder rioolstortings wat die Vaalrivier besoedel.
Die ANC-regering het nie die vermoë om dorpe en stede te bestuur nie en die belastingbetaler word ernstig hierdeur geraak.
Die VF Plus sal voortdurend druk op munisipaliteite en die provinsiale regering plaas om toe te sien dat korrupsie en wanbestuur wat lei tot diensleweringsprobleme, uitgeroei word.
Navrae: 071 604 9498