Verskeie provinsiale hospitale en klinieke in die Oos-Kaap is nie in staat om te voldoen aan verwagte dienslewering nie. Dit word veroorsaak deur personeel wat weier om te werk weens agterstallige oortyd-vergoeding en ‘n tekort aan beskermende klere.
Verskeie eenhede van die Livingstone-hospitaal in Port-Elizabeth funksioneer nie, afvalmateriaal in plastieksakke hoop op in die gange en linne word nie gewas nie.
Belangrike klinieke soos Motherwell Community Health Centre het reeds sy deure gesluit weens die tekort aan persoonlike beskermende toerusting. Die situasie bring mee dat ernstig siek pasiënte weggewys moet word.
Die Cecilia Makiwane-hospitaal het drie eenhede gesluit nadat personeel Covid-19 opgedoen het.
Die VF Plus in die Oos-Kaap verwag dat die LUR vir gesondheid, Sindiswa Gomba, verantwoordelikheid moet aanvaar vir die swak toestande by provinsiale hospitale en klinieke en moet toesien dat die probleme reggestel word, veral met die verwagting dat die siekte vinnig gaan versprei in die provinsie. Tans is die provinsie nie gereed nie.
Die VF Plus beskou die aankoop van ‘n honderd mediese nooddiens-motorfietse om pasiënte in afgeleë gebiede te bereik, as ‘n bewys van die LUR se onvermoë om krisusbestuur toe te pas.
Alhoewel die aankoop van motorfietse geregverdig mag word, is die aankoop van ‘n honderd daarvan moeilik regverdigbaar. Die LUR moes eers bogenoemde probleme opgelos het en die dispuut oor oortyd ontlont het.
Dit is sinneloos om pasiënte op verafgeleë plekke te gaan haal terwyl die provinsie se hospitale en klinieke nie behoorlik funksioneer nie.
In die lig van ‘n nie-funksionerende departement van gesondheid en ‘n LUR wat nie opgewasse is om die huidige pandemie te bestuur nie, dring die VF Plus daarop aan dat die LUR vervang moet word.
Navrae: 082 822 3414