Die VF Plus het ‘n skrywe aan die LUR vir landbou in Limpopo, Nandi Ndalan, gerig en ‘n dringende vergadering gevra om die uitbreek van bek-en-klouseer en die voortdurende droogte in die provinsie te bespreek en oplossings te vind.
Die party is diep bekommerd oor die uitbreek van bek-en-klouseer in die provinsie aangesien dit ‘n baie ernstige impak op die vleis- en landboubedryf vir opkomende en gevestigde boere kan inhou.
Daar is verder kommer uitgespreek oor die departement van landbou se optrede tot dusver en dat daar nie indringende oplossings vir die toestand bestaan nie. Indien veilings in die provinsie as voorkomende maatreël afgeskaf word, sal dit ‘n baie negatiewe impak op die landbousektor hê.
Die departement moet so gou moontlik gesonde gebiede binne die provinsie verklaar waarbinne veilings steeds kan plaasvind om sodoende te verseker dat die boere en die ekonomie van die provinsie nie finaal geknak word nie.
Om die probleem te vererger, het die departement ‘n wesenlike tekort aan veeartse. Dit kan as een van die redes vir vanjaar se tweede uitbraak van bek-en-klouseer beskou word.
Die voortdurende droogte in die provinsie het ook rampspoedige gevolge vir die landbougemeenskap wat 'n negatiewe uitwerking op voedselsekerheid, werkgeleenthede en ekonomiese groei in die provinsie het.
Dringende ingryping en maatreëls moet deur die provinsiale en nasionale regering ingestel word om die boere in die provinsie te help. Die droogte moet ook tot ‘n provinsiale ramp verklaar word.
Die landboubedryf is die ruggraat van die provinsie se ekonomie en hulp moet verleen word deur al die betrokke departemente om te verhoed dat meer boere die bedryf verlaat.
Kontaknommer: 066 024 4623