Die VF Plus het sy ernstige kommer uitgespreek oor die voorgestelde 2026/27-begroting van die Ephraim Mogale-plaaslike munisipaliteit (Marble Hall).
Die begroting toon ’n bedryfstekort van meer as R68 miljoen, terwyl meer as R110 miljoen aan eie-gefinansierde kapitaalprojekte toegeken word sonder dat daar bewys is van voldoende kontantgedekte reserwes om dit te ondersteun.
Die VF Plus vra veral duidelikheid oor die ramphersteltoelaag van R14,8 miljoen wat die nasionale tesourie (NT) aan die munisipaliteit toegeken het en in die Staatskoerant van 6 Februarie 2026 gepubliseer is.
Tot dusver is daar geen duidelike openbaarmaking oor of die toekenning ontvang is, watter projekte daarmee gefinansier word, hoeveel reeds bestee is en watter saldo’s nog beskikbaar is nie.
Verder is daar kommer oor die begroting se aannames en uitgawes: ’n Invorderingskoers van 90% word veronderstel ten spyte van groot skuldinvorderingsprobleme, sowat R109 miljoen word aan gekontrakteerde dienste toegeken en groot projekte word sonder voldoende finansiële openbaarmaking aangebied.
’n Munisipale begroting moet volgens die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) geloofwaardig, gefinansier en deursigtig wees, gegrond op realistiese inkomste.
Die party sal daarom formeel versoek dat die provinsiale tesourie, die munisipale openbare rekeningekomitee (MPAC) en ander toesigstrukture die begroting deeglik ondersoek voordat finale goedkeuring verleen word.
Die inwoners van Ephraim Mogale het die reg op deursigtigheid, wettige bestuur en volledige openbaarmaking oor die gebruik van openbare fondse.
Kiesers het die geleentheid om op 4 November vir die VF Plus te stem om te verseker dat belastingbetalersgeld beskerm en verantwoordelik bestuur word.


