Die ineenstorting van Mpumalanga se padinfrastruktuur dwing boere in landelike gebiede om hul eie fondse en toerusting te gebruik om paaie te herstel, ten spyte daarvan dat miljarde rande amptelik vir padonderhoud bewillig is.
Die nasionale regering het R1,5 miljard as deel van die provinsiale padonderhoudstoelae aan die provinsie gegee terwyl die provinsiale departement van openbare werke, paaie en vervoer oor ʼn totale begroting van sowat R6 miljard beskik vir die 2026/27-boekjaar.
Die departement het onlangs ook 19 nuwe stootskrapers ter waarde van sowat R50 miljoen aangekoop, wat in Maart 2026 amptelik ontvang en oor die vier distrikte versprei is.
Hierdie syfers staan in skrille kontras met die werklikheid op grondvlak.
Die VF Plus se Piet Retief-tak het byvoorbeeld die afgelope maand alleen 170 slaggate op die D2232 tussen Piet Retief en Wittenberg herstel.
Ten spyte van die miljarde rande wat begroot word en die 19 nuwe stootskrapers wat aangeskaf is, bly daar vir baie boere geen sigbare verbetering op die paaie nie.
Die VF Plus eis groter aanspreeklikheid en dring daarop aan dat begrote fondse werklik aangewend word vir padherstelwerk en instandhouding, sodat boere nie langer die las van die regering se mislukkings hoef te dra nie.


