Die VF Plus het tydens ‘n raadsvergadering van die Tshwane-metroraad aanbeveel dat ‘n voorstel aan die nasionale tesourie gemaak word om die Babelegi-, Ga-Rankuwa- en Ekandustria-nywerheidsparke aan die Tshwane-metro oor te dra.
Die Babelegi- en Ga-Rankuwa-nywerheidsparke word onderskeidelik bestuur en besit deur die Noordwes-ontwikkelingskorporasie en Noordwes se provinsiale regering.
Die provinsiale regering van Mpumalanga en Mpumalanga se ekonomiese groei-agentskap bestuur en besit die Ekandustria-nywerheidspark in Bronkhorstspruit.
Die nywerheidsparke val binne Tshwane-metro se geografiese gebied sedert die provinsiale herafbakeningsproses in 2006 plaasgevind het.
Al drie nywerheidsparke, waarvan Babelegi onlangs nog van uitstaande gehalte was, ly ernstig onder onvoldoende en nalatige bestuur wat 'n direkte impak op die inwoners van die metro het.
Talle eiendomme is vakant en vele is onontwikkeld.
Die Tshwane-metro is verantwoordelik vir die verskaffing van dienste aan hierdie nywerheidsparke met die uitsondering van krag wat Eskom verskaf.
Sedert 2006 ondervind die Tshwane-metro verskeie uitdagings wat verband hou met die versuim om die parke oor te dra.
Dit sluit onder meer in:
• Stygende skuld vanweë onbetaalde dienste en eiendomsbelasting van meer as R120 miljoen;
• Infrastruktuurverval wat daartoe lei dat ondernemings die nywerheidsparke verlaat;
• Werksverliese en gepaardgaande protes vanuit buurgemeenskappe;
• Vandalisme van infrastruktuur; en
• Deindustrialisering weens ‘n gebrek aan beleggings.
Die VF Plus beveel dus aan dat die aangeleentheid na nasionale tesourie geëskaleer word vir dringende ingryping sodat die nywerheidsparke se eienaarskap na die Tshwane-metroraad oorgedra word en om alle uitstaande skulde te verhaal.
Die VF Plus, as deel van die koalisieregering, beskou dit van kritieke belang dat die eienaarskap en beheer van dié nywerheidsparke aan die Tshwane-metro oorgedra word sodat hulle weer omskep kan word in katalisators vir industriële ontwikkeling en werkskepping.