Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus vra antwoorde oor kultuur van korrupsie in Matjhabeng

Die VF Plus het in ʼn skrywe aan die waarnemende munisipale bestuurder van die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit, adv. Louretta van Wyk, antwoorde geëis oor die toenemende bewerings van tenderbedrog in dié munisipaliteit.

Matjhabeng bedien Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia en Welkom.

ʼn Formele ondersoek na alle tenders is noodsaaklik om te bepaal of dit op meriete en kwalifikasies toegeken is en wie by die besluitnemingsproses betrokke was.

Die jongste bewering is dat mnr. Mojalefa Buti, burgemeesterskomiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling ’n tender van R15 miljoen vir ‘n sonkragplaas aan sy eie maatskappy toegeken het.

Daar is onlangs ook berig dat ene Katiso Molefe glo ’n R390 miljard-lughawekontrak in 2023 ontvang het met ’n maatskappy wat net ná die advertensie geregistreer is.

Molefe is ʼn omstrede sakeman van Sandton wat in verskeie strafregtelike sake geïmpliseer word en goed bekend is in ANC-kringe.

Matjhabeng is in Februarie 2025 onder administrasie geplaas ingevolge artikel 139 van die Grondwet weens volgehoue finansiële wanbestuur en die ineenstorting van dienslewering.

Reeds in 2021 het die amptelike burgemeestersketting van R20 miljoen spoorloos verdwyn sonder enige terugvoer vier jaar later.

Die burgemeester, Thanduxolo Khalipha, is ook skuldig bevind aan aanranding en crimen injuria, ná ‘n voorval tydens ’n gemeenskapsvergadering waarin hy sy bestuurder en lyfwag aangerand en verneder het.

Die eens trotse Goudveldse dorpe is vandag slegs aan die gang weens die oorblywende goudmynbedryf, maar die munisipaliteit self is een van die mees vervalle in die Vrystaat met skuld van R,8 miljard aan Eskom en R7,3 miljard aan die Vaal Sentraal Waterraad.

Inwoners dra die gevolge van strate vol slaggate, riool in woongebiede en gereelde water- en kragonderbrekings wat die plaaslike ekonomie wurg.

Die verval van Matjhabeng kan net voor die deur van die ANC gelê word. Sy nalatenskap is nie een van vryheid en vooruitgang nie, maar een van korrupsie en agteruitgang.

Inwoners verdien antwoorde en ordentlike dienslewering.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.