Inwoners van Klerksoord in Pretoria-Noord kan nie langer aan uitermatige lugbesoedeling blootgestel word weens ʼn buiteband-herwinningsonderneming in dié gebied wat nie aan munisipale gesondheids- en omgewingsregulasies voldoen nie.
Die onderneming se lugbesoedeling is op 16 Augustus op die spits gedryf toe ʼn brand by die perseel uitgebreek het en brandweerdienste vir ses dae moes spook om die brand te blus.
Terwyl die brand gewoed het, het baie inwoners die VF Plus geskakel en aangedui dat hulle respiratoriese probleme ondervind soos asemnood, duiseligheid, hoofpyn en verergerde asma.
Een inwoner het gemeld dat sy nie meer haar huis kan verlaat nie en selfs binnenshuis ’n masker moes dra.
Die situasie is onaanvaarbaar en die VF Plus het dadelik die metro se departemente van gesondheid, gemeenskapsveiligheid en omgewing versoek om die probleem aan te spreek.
Hierdie is nie die eerste keer dat die VF Plus die probleem onder die onderskeie departemente se aandag bring nie.
Die party het reeds in 2022 gevra dat die onderneming, wat buitebande regdeur die jaar vir herwinningsdoeleindes brand, ondersoek moet word.
Die departement van gemeenskapsveiligheid het ná ʼn ondersoek bevind dat die onderneming nie aan enige munisipale regulasies en bywette voldoen nie en het die bestuur gemaan om óf aan wetgewing te voldoen, óf die onderneming te sluit. Van dié aanmaning het daar niks van gekom nie.
In Mei vanjaar het die omgewingsdepartement ʼn tweede ondersoek uitgevoer, maar nog geen terugvoer gegee nie.
Die VF Plus eis die volgende van die Tshwane-metro se onderskeie departemente:
• Dat die ondersoekverslag van die omgewingsdepartement oor die werksaamhede van die onderneming onmiddellik bekendgemaak word.
• Dat indien daar enige onreëlmatige optrede is aan die kant van die onderneming, strafregtelike en administratiewe stappe teen die eienaar geneem word.
• Dat ʼn volledige ondersoek na inwoners en die omliggende gemeenskap se gesondheid gedoen word.
• Dat die luggehalte in die gebied deurlopend gemonitor en openbaar gemaak word.
• ʼn Vergadering met die betrokke departemente se oorsigkomitees in die metroraad gereël word om die pad vorentoe te bepaal.
Die inwoners van Klerksoord en omliggende gebiede het nou lank genoeg gely en verdien om in ʼn omgewing te leef en werk wat nie skadelik is vir hul gesondheid nie.
Die VF Plus sal nie rus tot die saak deeglik ondersoek en reggestel is nie.


