Die VF Plus het vandag tydens ‘n debat in Noordwes se provinsiale wetgewer beklemtoon dat korrupsie in die regering nie bloot lei tot direkte finansiële verliese nie, maar dat dit ‘n verwoestende rimpeleffek op die provinsiale ekonomie het.
Die nasionale tesourie (NT) het bereken dat regeringsbesteding aan plaaslike verskaffers en kontrakteurs tot 150% van die waarde van die aanvanklike besteding tot die plaaslike ekonomie toevoeg.
Die omgekeerde is egter ook waar. Vir elke miljoen rand wat deur korrupsie verlore gaan, word R2,5 miljoen se groei en geleenthede vernietig.
Die ouditeur-generaal (OG) het in ‘n verslag bevind dat wanbesteding en korrupsie in munisipaliteite in die 2021/22-finansiële jaar R87 miljard beloop het. Sowat R128 miljard se groeipotensiaal in plaaslike ekonomieë is dus in ‘n enkele jaar vernietig deur korrupsie.
Die negatiewe impak op plaaslike gemeenskappe is enorm. Net in Noordwes het 210 000 werkgeleenthede weens korrupsie verlore gegaan.
Ten spyte van verskeie ondersoeke en selfs forensiese verslae wat gevalle van grootskaalse korrupsie uitwys, is daar van doeltreffende vervolging weinig sprake. Die korrupte stropingsindikate verfyn bloot hul tegnieke om nóg meer openbare fondse deur korrupsie te bekom.
Die ANC en sy ontplooide kaders het eens vooruitstrewende munisipaliteite soos Matlosana, Mamusa en Ditsobotla in misdaadtonele omskep met korrupsie wat die norm in hierdie gebiede geword het.
Van basiese dienslewering aan die inwoners is daar bykans geen sprake meer nie.
Die feit dat die ANC boonop poog om munisipale belastings te verhoog om op te maak vir begrotingstekorte wat weens hul korrupte aktiwiteite ontstaan het, is ‘n verdere bewys dat hulle hul greep op die werklikheid verloor het.
Dit is ‘n skande dat die die ANC tot ‘n vlak gedaal het waar hy verwag dat inwoners en belastingbetalers sy korrupsie en wanbestuur met verdere belastings moet finansier.
Dit is duidelik dat die ANC die inwoners van Noordwes bloot as ‘n belastingkoei beskou en geen ag slaan op die verwoestende gevolge wat hul optrede vir gemeenskappe inhou nie.
Die ANC het ‘n belasting op sigself geword wat die land nie meer kan bekostig nie.
Die VF Plus sal voortgaan om die euwel van korrupsie te bestry en ANC-vergrype bloot te lê.


