Die Tshwane-metro se dreigemente om die kultuurdorp Kleinfontein te dagvaar om te voldoen aan die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur (SPLUMA) is administratiewe verontagsaming en ʼn doelbewuste poging tot politieke marginalisering.
Die metro het herhaaldelik versuim om gehoor te gee aan die bestuur van Kleinfontein om die saak te bespreek. Die VF Plus beskou dit as growwe nalatigheid aan die kant van die metro.
Die mense van Kleinfontein het voor 2000 met hul regmatige strewe na dorpstatus begin met ’n formele aansoek aan die destydse Gesondheidsraad vir Buitestedelike gebiede (Peri-Urban Areas Health Board).
Hierdie aansoek is later oorgedra aan die Kungwini-plaaslike munisipaliteit en in 2013 na die Tshwane-metro.
Tot op hede, twaalf jaar later, is daar geen finale besluit oor Kleinfontein se aansoek geneem nie.
Die afgelope drie maande het senior amptenare, insluitend die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, Aaron Maluleka, vyf keer beloftes gemaak dat ʼn vergadering met die Kleinfontein-bestuur gereël sou word. Dié ondernemings is óf uitgestel óf heeltemal geïgnoreer
• 2 Junie 2025: Belofte van datumvoorstelle – geen opvolg.
• 12 Junie 2025: Vergadering voorgestel vir 17 Junie – geen bevestiging.
• 29 Junie 2025: VF Plus stel derde datum voor – geen plek of tyd bevestig.
• 30 Junie 2025: Finale versoek vir bevestiging – geen antwoord.
• 11 Julie 2025: VF Plus stel sperdatum – geen reaksie van die burgemeester se kantoor.
Hierdie patroon van leë beloftes en administratiewe ontwykings is nie toevallig nie.
Dit is deel van ’n groter politieke agenda wat Kleinfontein as ’n politieke speelbal gebruik, terwyl 16 ander onwettige nedersettings in die metro heeltemal geïgnoreer word.
Die VF Plus het formeel versoek dat die volledige verslag van die burgemeester se subkomitee vir menslike nedersettings oor sogenaamde onwettige ontwikkelings openbaar gemaak word.
Die VF Plus eis ook ’n ondersoek na die uitlek van inligting aan die media wat die vertroulikheid van interne prosesse geskend en gemeenskapswantroue aangeblaas het.
Die dreigemente van sloping, die skielike verhoging van ʼn globale eiendomsbelasting van R50 000 tot R2 miljoen per maand en die hofaksie teen Kleinfontein is nie net onregverdig nie, dit is grondwetlik verdag.
Artikel 235 van die Grondwet beskerm die reg op kulturele selfbeskikking. Artikel 31 bevestig die reg op gemeenskapsidentiteit. Die Tshwane-metro se optrede skend beide.
Die VF Plus sal nie swyg en toekyk hoe ʼn selfstandige gemeenskap vervolg word vir hul kultuur en beginsels nie. Die party sal voortgaan om die voortbestaan van Kleinfontein te verdedig op alle terreine.
Die inwoners van Kleinfontein verdien regverdigheid en nie vervolging weens politieke speletjies nie.


