Die VF Plus het die Stellenbosch-plaaslike munisipaliteit se beweerde onwettige goedkeurings vir die verhuring van munisipale eiendomme na die spesiale ondersoekeenheid (SOE) verwys vir ‘n volledige en onafhanklike ondersoek.
Hoewel die party kennis neem van die Wes-Kaapse regering se voorlopige provinsiale ondersoek, glo die VF Plus dat slegs ‘n onafhanklike SOE-ondersoek inwoners die nodige versekering kan gee wat hulle verdien.
Die nasionale tesourie (NT) het in Junie 2025 skriftelik bevestig dat die munisipaliteit se benadering tot die verhuring van eiendomme die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) en die Munisipale Bate-oordragreëls oortree. Hierdie bevinding, wat aanvanklik deur ‘n enkele huuraansoek na vore gekom het, het ‘n patroon van beweerde onreëlmatige goedkeurings by minstens twaalf munisipale eiendomme blootgelê.
ʼn Onwettige bepaling het die uitvoerende burgemeester en burgemeesterskomitee vir vier jaar toegelaat om meer as twaalf beginselgoedkeurings vir die verhuring van munisipale grond te verleen sonder dat mededingende tenderprosesse of behoorlike openbare deelname plaasgevind het.
Voorbeelde van sulke onreëlmatige verhurings sluit in kontrakte met gemeenskapsorganisasies soos U-turn-skuiling vir dakloses, L’Abrie de Dieu-veiligheidshuis, Stellenbosch-dierewelsyn asook ander eiendomme wat sonder mededinging of raadgoedkeuring verhuur is.
Ten spyte van die NT se duidelike regsriglyne, bly hierdie onreëlmatige huurkontrakte steeds van krag. Dit is egter van die uiterste belang dat organisasies soos bogenoemde nie benadeel word weens die munisipaliteit se versuim om wetgewing na te kom nie.
Die VF Plus is nie tevrede dat verantwoordelikheid vir die ondersoek slegs by die uitvoerende gesag en administrasie berus nie. ’n Onafhanklike SOE-ondersoek sal vasstel of daar enige onbehoorlikhede was. Indien niks verkeerd is nie, sal dit almal betrokke vryspreek. Indien wel, het die publiek die reg om dit te weet.
Inwoners het ook die reg om te weet dat die proses op ‘n billike, deursigtige en wettige wyse gedoen word. Indien nie, het hulle die reg op ‘n volledige en onafhanklike ondersoek.
Die VF Plus doen ‘n beroep op die munisipale bestuurder en die uitvoerende burgemeester om ten volle met die SOE saam te werk. Die party sal die saak noukeurig monitor.


