Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, se skielike aanstelling van die EFF se Nkululeko Dunga as die Gauteng-regering se nuwe LUR vir finansies, is ‘n groot fout.
Dunga is op geen wyse bevoeg om dié pos in die Gauteng-regering te beklee nie en dit kan tot groot skade vir die provinsie lei wat reeds gebuk gaan onder finansiële wanbestuur en swak ekonomiese groei.
Die ANC het Dunga in 2024 as burgemeesterskomiteelid (LBK) vir finansies in die Ekurhuleni-metroraad afgedank weens wanprestasie en moontlike oortredings van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA).
Hy het onder meer nagelaat om die metro se 2023-geouditeerde finansiële jaarstate in te dien wat gelei het tot die afgradering van die metro tot rommelstatus deur die kredietgraderingsagentskap, Moody’s. Hy het daardeur ook die MFMA-wet verbreek.
Dit is ironies dat die ANC in Ekurhuleni vir Dunga die trekpas gegee het, maar dat Lesufi hom nou in dié kritieke pos aanstel. Die provinsie loop gewis nou die risiko om dieselfde pad as Ekurhuleni te loop.
Lesufi het verduidelik dat hy deur dié aanstelling die EFF in die regering van provinsiale eenheid intrek ten einde ‘n volstrekte meerderheid vir die regering te skep. Hy meen dit sal stabiliteit vestig in ‘n tyd waarin die ANC met minder as 50%-steun moet klaarkom.
Die VF Plus is egter van mening dat dié aanstelling nog meer onstabiliteit vir die regering en die provinsie voorspel.
Die VF Plus sal nou twee stappe doen oor Dunga se aanstelling.
Eerstens sal Dunga se werk noukeurig in die oorsigkomitee oor finansies gemonitor word. Tweedens sal die party dringend ‘n gesprek met die premier aanvra rakende die aanstelling.
Die premier moet besef dat die ekonomiese antwoorde vir die provinsie nie in opportunistiese aanstellings lê nie.


