Die VF Plus het sterk standpunt ingeneem teen die Mangaung-metro se besluit om meer as R2.8 miljard se rente op ou skuld af te skryf, sonder individuele hersiening van rekeninge.
Tydens ’n raadsvergadering vandag het die DA vir die voorgestelde afskrywing gestem. Die VF Plus het teen die voorstel gestem en dit verwerp op grond van die gebrek aan besonderhede, verantwoording en die potensiële skade aan die metro se belastingskuld.
Hierdie besluit stuur die boodskap uit dat wanbetaling beloon word. Dit ondermyn die betalingskultuur en bevoordeel groot skuldiges soos staatsinstellings, insluitend Transnet, ACSA, die Vrystaatse provinsiale regering en die Mangaung-metro self.
Die VF Plus dring daarop aan dat enige skuldverligting slegs ná ’n deursigtige, rekening-vir-rekening-hersiening oorweeg word, en dat slegs oninvorderbare rente afgeskryf word.
Die party het ook kommer uitgespreek oor talle administratiewe gebreke in die debiteureboek, insluitend rekeninge van slegs enkele sente wat steeds op die stelsel verskyn.
Die metro moet bestuur word soos ’n sake-onderneming en nie soos ’n liefdadigheidsorganisasie vir wanbetalers nie.
Elke rand wat afgeskryf word, is ’n rand minder vir basiese dienslewering soos water, elektrisiteit, padherstelwerk en veiligheid.
Die VF Plus doen ’n beroep op die stadsbestuurder, mnr. Sello More, asook die hoof finansiële beampte, mnr. Zuziwe Thekiso, om die skuldinvorderingstelsel dringend te herevalueer en finansiële dissipline te herstel.


