Die VF Plus veroordeel die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Nelspruit, Hazyview, Witrivier en Barberton) se besluit om twee bykomende afgevaardigdes na die 2025-Wêreldwaterweek in Stockholm in Swede te stuur ten koste van plaaslike belastingbetalers.
Die waterdiensverskaffer van Mbombela, Silulumanzi, het die uitvoerende burgemeester, Sibongile Makushe-Mazibuko en die munisipale bestuurder mnr. Wiseman Khumalo, genooi om die geleentheid by te woon op sy onkoste.
In ʼn stap wat Mbombela se finansiële beperkings verontagsaam, het die ANC sy meerderheid in die raad gebruik om befondsing vir twee bykomende afgevaardigdes goed te keur op die rekening van die munisipaliteit.
Hierdie besluit kom op ʼn tydstip waar ʼn begrotingskrisis Mbombela in die gesig staar met krediteure wat meer as R2 miljard verskuldig is. Dit sluit onder meer in die skuld van die departement van openbare werke en vervoer (R110,6 miljoen), klinieke (R31 miljoen) en skole (R10,3 miljoen).
Die VF Plus is van mening dat die burgemeester en munisipale bestuurder moet terugstaan en fokus op die probleme van die munisipaliteit en die uitnodiging eerder moet delegeer na twee betrokke of kundige amptenare.
In stede daarvan het die ANC weer politieke voorkeur geprioritiseer bo dienslewering en fiskale verantwoordelikheid.
Daar is ook oor die afgelope 36 maande geen enkele verslag oor oorsese reise in die raad ter tafel gelê om die tasbare voordele van die reise of verbeterings in munisipale bestuur te demonstreer nie.
Die party eis ʼn omvattende verslag oor waarom vorige besluite oor reisverantwoordbaarheid nie geïmplementeer is nie en dat dissiplinêre stappe ingestel word teen diegene wat daarvoor verantwoordelik is.
Die VF Plus bly daartoe verbind om die munisipaliteit aanspreeklik te hou en te verseker dat openbare fondse gebruik word om inwoners te bevoordeel, nie om politieke uitstappies te subsidieer nie.


