fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwerp idee van kwotas in gesprek met sportminister

Die minister van sport, Fikile Mbalula, het die VF Plus en ander burgerlike organisasies genooi om vandag met hom te gesels oor sportkwotas. Die kwessie was onlangs in die nuus toe Mbalula gesê het nasionale sportspanne moet 60% swart spelers bevat.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport, sê die VF Plus se boodskap aan die minister was dat sy voorstelle gelykstaande is aan sosiale ingenieurswese in sport en dat dit jong wittes en ander minderhede van geleenthede sal ontneem.

Volgens adv. Alberts was die gesprek nogtans konstruktief en die minister het tydens die gesprek sy sportplan uitgelê waar hy verduidelik het dat kwotas net een onderafdeling is van die geheel van die sportplan.

“Die VF Plus het heftig met die minister verskil aangesien kwotas steeds deel van die plan is en is van mening dat die klem op ontwikkeling moet lê wat sal sorg dat alle jong mense ongeag hul sosio-ekonomiese status die geleentheid sal kry om aan sport deel te neem en te groei.

“Die VF Plus het dit benadruk dat daar in beginsel geen verskil is tussen wat die minister beoog en Hitler se verbod op Jode om aan die Olimpiese Spele van 1939 deel te neem nie.

“Ons stem wel saam met die minister oor sy ontwikkelingsplan en meen dat die oplossing daarin lê. Indien ontwikkeling behoorlik gedoen word en die regering sy geldelike bydraes op die regte plekke aanwend, sal sportsterre self ontwikkel en sal daar genoegsame talentvolle sportmanne in die toekoms wees ongeag hul velkleur.

“Die minister was konsekwent in sy beleid deur te sê dat hy dink die nasionale demografie word nie behoorlik weerspieël in Suid-Afrikaanse sokker nie en dat daar te min wit gesigte is. Dis egter steeds nie vir ons aanvaarbaar nie. ‘n Span moet bestaan uit die beste mense ongeag hul sosiale agtergrond en hul velkleur.

“Kwotas is onversoenbaar met meriete en hierdie sosiale manipulasie is niks ander nie as strukturele geweld wat die regering pleeg en toepas op onskuldige jeugdiges weens hul velkleur.

“Die VF Plus sal sy mandaat as politieke party volstaan deur die beleid in die parlement en in die wetgewers teen te staan. Indien daar nie sukses behaal word teen die beleid nie, sal enige inisiatief om die beleid in ‘n hof te bevraagteken, gesteun word,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.