fbpx
Vryheidsfront Plus

Transnet nie eerlik oor bonusse aan pensioenarisse

Transnet is oneerlik met sy gespog die laaste paar dae in die media dat hy oor die jare miljarde rande se bonusse aan pensioenarisse uitbetaal het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Hy sê gesien in die lig van die patetiese 2%-verhoging wat pensioenarisse van die twee pensioenfondse jaarliks ontvang, kom dit daarop neer dat geld wat pensioenarisse lank reeds moes ontvang het, gebruik word om hul eie bonusse te genereer.

Transnet het nou aangekondig dat pensioentrekkers kry elkeen ’n bonus van R2 656,71. Dit is gelykstaande aan ’n maand se pensioengeld. Pensioentrekkers het in November verlede jaar ook só ’n ‘bonus’ gekry.

Adv. Alberts sê Transnet spog nou daarmee dat die bonusse wat hy sedert 2007 uitbetaal het, R2,054 miljard beloop.

“Die meeste van die geld vir hierdie bonusse kom uit die surplus van die fondse wat ontstaan het weens die swak verhoging van 2%. Transnet moet die publiek nie mislei nie. Hy dra nie self by tot hierdie bonusse nie.

“Transnet is trouens nou in die verdedigingsbank omdat hulle agterstallige skulde aan hul pensioenfondse nie betaal het nie en sekere bates gestroop het wat tot die swak jaarlikse verhogings aanleiding gegee het.

“Hierdie aangeleentheid sal binnekort in die hof te berde gebring word. Die VF Plus glo dat Transnet dan sal moet betaal wat die pensioenarisse werklik toekom. Hierdie woordspeletjies sit nie kos op die tafel van duisende mense wat in groot ellende verkeer nie,” sê adv. Alberts.

Sowat 70 000 pensioenarisse het ‘n klasaksie-eis teen Transnet by die Noord-Gautengse Hooggeregshof ingedien waar skadevergoeding van bykans R80 miljard van Transnet en die regering geëis word.

Dit is die grootste eis in Suid-Afrika se regsgeskiedenis. Daar word nou gewag vir die adjunk-regterpresident van die hof om ‘n hofdatum te bepaal. Die VF Plus sal alle betrokke partye deurentyd op hoogte van die verloop van sake hou.

 

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.