Die VF Plus het verlede week die 2025/26-begroting van die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit ten sterkste verwerp weens die feit dat te min befondsing voorgehou is vir dienslewering en vervalle infrastruktuur.
Slegs ‘n ekstra miljoen rand is begroot vir uitgawes wat direk verband hou met dienslewering. Daar is slegs R16 miljoen begroot vir die herstel of vervanging van infrastruktuur wat paaie, waterpype, en kraginfrastruktuur insluit.
Die nuwe begroting is onbefonds en dek nie alle uitgawes nie. Die onbefondsde begroting is hoofsaaklik weens buitensporige uitstaande Eskom-skuld van R165 miljoen.
Die VF Plus het ook die ander voorgestelde tariefverhogings van 4.3% teengestaan.
Alhoewel die VF Plus die noodsaaklikheid insien van jaarlikse aanpassings om tred te hou met inflasie en operasionele kostes, moet die finansiële las in ag geneem word waaronder belastingbetalers reeds gebuk gaan.
Die munisipale bestuur moet eerder daarop fokus om sy invorderingskoers vir dienste te verhoog.
Vir die afgelope 24 maande het uitstaande skuld van R722 miljoen rand gestyg na R895 miljoen wat duidelik bewys dat skuldinvordering onsuksesvol is.
Dit is dus onbillik om reeds oorbelaste inwoners met onbillike tariefverhogings te straf. Die party het ‘n nuwe begroting voorgestel en sal binnekort terugvoer daaroor gee.
Die VF Plus sal aanhou druk toepas dat die munisipaliteit alles in sy vermoë moet doen om die verhoging van tariewe te voorkom en onnodige besteding te beperk.
Die VF Plus is daartoe verbind om die stem van Dipaleseng-inwoners te wees wat getrou hul diensterekeninge betaal.
Dis is noodsaaklik om te verseker dat inwoners se finansiële bydraes verantwoordelik en regverdig aangewend word.


