Die voorgestelde tariefverhogings van die Mosselbaai-plaaslike munisipaliteit soos vervat in sy konsepbegroting vir die 2025/26-finansiële jaar, gaan veral pensioenarisse en middelklas-inwoners finansieel knou.
Die VF Plus kan nie die voorgestelde tariefverhoging van 13% op eiendomsbelasting steun nie. Dit is vier keer meer as die huidige inflasiekoers en sal eiendomseienaars swaar tref.
Die ander voorgestelde tariefverhogings is soos volg:
• Krag – 10%
• Water – 10%
• Riool – 9%
• Vullisverwydering – 7%.
Dié tariewe is vaste koste op basiese dienste en is nie beheerbaar deur minder te verbruik nie.
Die kapitaalbegroting van R425 miljoen vir die 2025/26-finansiële jaar word verminder tot R228 miljoen in 2026/27 en tot R169 miljoen in 2027/28.
Hierdie bedrae wek kommer, veral as die hoë semigrasiesyfers, druk op infrastruktuur en ʼn eksterne lening van R204 miljoen, wat vir 2025/26 voorsien word, opgeneem moet word.
Rente en delging op hierdie massiewe lening gaan beslis groter tariefverhoging in 2026/27 teweegbring, maar word in die verslag verswyg.
Die VF Plus is van mening dat ‘n meer eweredige verspreiding van die kapitaalbegroting oor drie jaar meer doeltreffend sal wees.
Die aankoop van krag in 2025/26 word met R65,8 miljoen verhoog, terwyl die inkomste slegs met R32,3 miljoen verhoog word.
In die kapitaalbegroting is daar ook R132,6 miljoen vir alternatiewe krag voorsien. Aankope teen dubbel die bedrag van wat verkoop gaan word, word bevraagteken.
Mosselbaai word as die mees finansieel volhoubare munisipaliteit in die land voorgehou, maar die inwoners betaal die prys daarvoor en trek al swaarder.
Die VF Plus doen ‘n beroep op elke inwoner om betrokke raak by die begroting en kommentaar daarop te lewer tydens die openbare deelnameproses.
Inwoners kan ook gebruik maak van die VF Plus se hulp en kan sy kantoor in Marshstraat besoek.
Almal moet nou saamstaan om te verseker dat Mosselbaai ‘n begroting kry wat inwoners se behoeftes aanspreek en terselfdertyd bekostigbaar is.
Met die goedkeuring van die vorige begroting is gesê die 2025/26-begroting sou beter na pensioenarisse omsien. Daarvan het niks gekom nie.


