Die VF Plus stel die belange van die Afrikaner en ander minderhede voorop met sy deelname aan die regering van nasionale eenheid (RNE) en is nie verbind tot die besluite of optrede van enige ander politieke party oor voortgesette deelname of onttrekking aan die RNE nie.
Die VF Plus se uitvoerende dagbestuur het die afgelope Donderdag die onlangse gebeure rondom die begroting en die gevolge daarvan vir die RNE in diepte bespreek en hierdie uitgangspunt weer bevestig.
Die saak is nou na die party se federale dagbestuur verwys vir verdere bespreking. Die party sal hom nie laat lei of beïnvloed deur die optrede of besluit van ‘n ander party hieroor nie.
Die VF Plus is nie deel van die RNE ter wille van enige pos of posisie nie. Sy voortgesette deelname moet beoordeel word aan die hand van die vraag of dit tot die Afrikaner en ander minderhede se voordeel is of nie.
Verskillende politieke verwikkelinge noodsaak ‘n gepaste vorm van gesamentlike regering in Suid-Afrika. Hierdie werklikheid is met die 2024-verkiesing, waar geen enkele politieke party ‘n meerderheidsmandaat van die kiesers gekry het nie, bevestig.
Die ANC, as nog steeds die grootste enkele politieke party, kon ná die 2024-verkiesing ‘n simplistiese koalisie met een enkele ander politieke party gevorm het om ‘n regeermeerderheid te verkry.
Die ANC het gekies om dit nie so te doen nie en het ‘n breër, verteenwoordigende vorm van regering deur ‘n RNE gekies. Daarvoor moet die ANC die nodige erkenning kry. Dit was ‘n grootmoedige stap.
Die vraag is egter of hierdie uitreik van die ANC bedoel was om ‘n gesamentlike en akkommoderende nuwe regering daar te stel om Suid-Afrika se uitdagings met nuwe en beter planne aan te durf, of was dit bloot om die leierskap van ander politieke partye te koöpteer en daarna maar net voort te gaan soos die afgelope 31 jaar?
Alle ANC-optredes sedert die totstandkoming van die RNE ná die 2024-verkiesing dui daarop dat ons hier met ‘n poging tot koöptering van leierskap eerder as ‘n nuwe begin te make het.
Bela, die Onteieningswet, die NGV, buitelandse beleid, die hofsaak teen Israel, reaksies teenoor Amerika asook die hantering van die fiskale raamwerk en begroting dui oorweldigend op ‘n voortsetting van uitgediende en mislukte ANC-ideologiese denke en beleid.
Dit getuig glad nie van ’n verbintenis tot die daarstelling van ‘n konstruktiewe nuwe begin om Suid-Afrika se ekonomiese krisis van feitlik geen groei, enorme werkloosheid, agteruitgang en stagnasie op te los nie.
Indien daar beplan word om met die RNE op hierdie basis voort te gaan, is die kanse op sukses hoogs onwaarskynlik.
In die lig van die onlangse buitelandse en binnelandse politieke verandering is die behoefte vir ‘n gepaste vorm van gesamentlike regering in Suid-Afrika tans groter as ooit van te vore, maar dan sal daar ‘n herstelling (reset) van ingesteldheid moet kom.
Die wyse waarop daar tot nou met mede-regeringspartye omgegaan is, is nie aanvaarbaar nie. Ook die betrekking deur die ANC van politieke partye buite die RNE om die fiskale raamwerk deur te forseer, dui op geen ernstige verbintenis om die RNE te laat werk nie.
‘n RNE beteken nie die voortgesette regering van die ANC met enige groepering van politieke partye vir solank die ANC dit domineer en beheer nie. Dan is dit blote koöptering.
Die VF Plus wil deel wees van ‘n RNE waardeur die uitdagings van Suid-Afrika hanteer word en om die ideale en behoeftes van die Afrikaner en ander minderhede in Suid-Afrika tot hul reg te laat kom.
Daartoe is ons bereid, maar dit impliseer ‘n grondige herdink van almal betrokke in die RNE.
Eerskomende Dinsdag, 8 April, sal die VF Plus se federale dagbestuur die saak wat na hom verwys is, verder bespreek.


