(Debat in parlement: Wysigingswetsontwerpe om geslagsgeweld te bekamp)
Geslagsgeweld is 'n werklikheid in Suid-Afrika en tog bestaan daar die siening dat geweld tussen intieme lewensmaats of huweliksmaats ‘n ’n "private aangeleentheid” is wat binne die gesinsfeer hanteer moet word.
Hierdie persepsie kan gekoppel word aan die afwysende en ontkennende wyse waarop die publiek en wetstoepassingsagentskappe voorvalle van geslagsgeweld behandel.
In die meeste gevalle besluit slagoffers om die misdade nie aan te meld nie, of hulle weier om ‘n klag in te dien weens die druk van familielede en die lae waarskynlikheid dat oortreders skuldig bevind sal word.
Weens hierdie faktore moet slagoffers van geslagsgeweld dikwels oor verskeie hindernisse spring in hul strewe na geregtigheid, terwyl oortreders van geslagsgeweld skotvry of met slegs 'n tik oor die vingers wegstap.
Baie voorvalle van geslagsgeweld word gepleeg deur herhaalde oortreders of beskuldigdes wat verhoorafwagtend is en op borgtog vrygelaat is.
Polisiebeamptes is dikwels huiwerig om in te gryp in “gesinsaangeleenthede” en die regbank is deurspek met stereotipes en vooroordele rakende slagoffers van geslagsgeweld wat slagoffers blootstel aan verdere trauma.
Die VF Plus verwelkom daarom die drie Wysigingswetsontwerpe op Strafregtelike en Verwante Aangeleenthede, Strafreg (seksuele misdrywe) en Huishoudelike Geweld wat nie net ten doel het om vroue beter te beskerm nie, maar ook om te dien as afskrikmiddel vir oortreders om ‘n herhaling van geslagsgeweld (GBV) te voorkom. Dit beoog ook om die toestaan van borgtog aan oortreders strenger te maak en brei die reeks oortreding uit waarvoor minimum vonnisse opgelê moet word.
Die Wysigingswetsontwerp op Huishoudelike Geweld brei die definisie van gesinsgeweld ook uit tot diegene wat betrokke is in verlowings, gemeenregtelike verhoudings, romantiese, intieme of seksuele verhoudings ongeag die duur daarvan. Hierdie definisie is belangrik omdat dit 'n wesenlike verskil maak in die lewe van diegene wat die ergste gevolge van gesinsgeweld ervaar en wat voorheen onder die wet uitgesluit is en dit moeilik gevind het om remedies soos beskermingsbevele te bekom.
Die mees positiewe wysiging is die bepaling dat iemand beboet kan word en selfs gevangenisstraf kan ontvang indien hy of sy kennis dra, of ‘n redelike oortuiging of vermoede het dat 'n daad van huishoudelike geweld teen 'n kind, 'n persoon met 'n gestremdheid of 'n ouer persoon gepleeg word en versuim om dit by 'n maatskaplike werker of polisiebeampte aan te meld.
Die uitbreiding van die plig om huishoudelike geweld aan te meld, sal verseker dat die ervarings van slagoffers in die openbare domein geplaas word om die redes vir hul stilswye te verbreek.
Dit is onduidelik of die oplegging van langer vonnisse die pleeg van geslagsgeweld sal beperk, maar dit kan bydra tot die herstel van die publiek se vertroue in die regstelsel, veral waar die slagoffers ontevrede gelaat is deur die teenstrydighede tussen die erns van die misdryf en die opgelegde vonnis.
Die implementering van strenger maatreëls met betrekking tot borgtogaansoeke sal waarskynlik verhinder dat oortreders van geslagsgeweld wettige skuiwergate uitbuit om gevangenisstraf te vermy en sal nuwe verpligtinge op die polisie, aanklaers en die regbank afdwing in hul oorweging van borgtogaansoeke.
Die voorgestelde wysigings vereis dat aanklaers hul redes om borgtog vir oortreders nie teen te staan nie, op rekord te plaas.
Daarbenewens is howe onder die verpligting om te beveel dat 'n beskuldigde aangehou word totdat strafregtelike verrigtinge afgehandel is in die afwesigheid van buitengewone omstandighede waarom borgtog aan die beskuldigde toegestaan moet word.
Al bogenoemde wetswysigings is baie edel, maar die doeltreffendheid daarvan om geslagsgeweld hok te slaan, sal egter nog gesien moet word.