Geen vorm van misdaad kan deur enige gemeenskap geduld word nie, en veral misdaad wat vroue en kinders raak, moet op die sterkste moontlike manier afgekeur en bestry word. Daarom verwelkom die Vryheidsfront Plus die dubbele lewenslange vonnis wat aan Johannes Kana, die moordenaar en verkragter van Anene Booysen, opgelê is, sê mnr. Hendrik Pistorius, die Vryheidsfront Plus se Wes-Kaapse woordvoerder oor veiligheid en sekuriteit.
Kana is vandag in die rondgaande hooggeregshof op Swellendam gevonnis vir die verkragting en moord van Booysen die oggend van 1 en 2 Februarie vanjaar op Bredasdorp.
“Vroue en kinders is die sagte en broos deel van ‘n gemeenskap en alles moontlik moet gedoen word om hulle te beskerm en veilig te laat voel.
“Die VF Plus is uiters bekommerd oor die hoë vlakke van misdaad en geweld in Suid-Afrika en veral hoe dit vroue en kinders raak. Daar word byvoorbeeld sowat 150 vroue daagliks in Suid-Afrika verkrag, wat beteken sowat een elke tien minute.
“Dit kan nie geduld word nie, en daarom is dit belangrik dat die swaarste strawwe moontlik aan oortreders opgelê word,” sê mnr. Pistorius.
Hendrik Pistorius
Kontaknommer: 082 857 7764