Die VF Plus in die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, Emalahleni / Witbank) verwelkom die aanvang van herstelwerk aan die kritieke rioolstelsel in Paul Sauerpark.
Hierdie verwikkeling volg ná ‘n strafregtelike klag wat die party in Augustus 2024 teen die munisipale bestuurder, mnr. Sizwe Mayisela, ingedien het op grond van nalatigheid.
Die rioolstelsel, het sedert middel 2023 ernstige probleme veroorsaak met die vloei van rou riool in die Doringspoortspruit wat uiteindelik in die Witbankdam beland.
Dit het nie net ‘n gevaarlike gesondheidsrisiko vir inwoners ingehou nie, maar ook ondergrondse waterbronne erg besoedel wat dit ongeskik maak vir menslike gebruik.
Hierdie is ‘n belangrike oorwinning vir omgewingsgeregtigheid en dienslewering aangesien die VF Plus nie langer kon toekyk hoe die munisipaliteit in gebreke bly om ‘n fundamentele diens te verskaf nie.
Dit is veral noodsaaklik vir ‘n stelsel met so ‘n direkte impak op die omgewing en gemeenskapsgesondheid.
Die vervangingswerk het onlangs formeel begin nadat kontrakteurs aangestel is. Die presiese voltooiingsdatum sal nog bevestig word, maar die VF Plus sal die vordering deurlopend monitor.
Die klag en gevolglike ingryping steun op bepalings van verskeie wetgewing: die Wet op Munisipale Finansiële bestuur, die Wet op Waterdienste en die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur.
Hierdie wette vereis aanspreeklikheid, volhoubare finansiële bestuur en die beskerming van natuurlike hulpbronne.
Die sukses in Paul Sauerpark bewys dat volgehoue druk en regsaksie werkbaar is waar plaaslike bestuur faal. ‘n Voortgesette ondersoek na die klag teen die munisipale bestuurder is steeds aan die gang.


