Die VF Plus verwelkom Jaco Burger as die party se nuwe lid van die Oos-Kaapse wetgewer.
Sy aanstelling volg ná die ontydige afsterwe van Theo Coetzee in Januarie.
Burger, ‘n boorling van Hartswater in die Noord-Kaap, is ‘n omgewingskundige wat reeds 29 jaar in die Oos-Kaap woon.
Hy is ‘n lid van die VF Plus se provinsiale dagbestuur in die provinsie en is reeds vir etlike jare nou betrokke by gemeenskapsprojekte.
Hy is die medestigter van die organisasie, Water Warriors, in die Nelson Mandelabaai-metro.
Burger is passievol oor die omgewing en het reeds verskeie radioprogramme en werkswinkels oor omgewingsake aangebied.
Die VF Plus beskou sy kundigheid oor omgewingsbestuur as besonder waardevol en glo dat hy as wetgewerlid ‘n groot bydrae sal lewer om onder meer die waterkrisis wat die Oos-Kaap in die gesig staar, aan te spreek.
Burger sal die goeie werk van sy voorganger voortsit en verseker dat die ANC in die Oos-Kaap verantwoordbaar gehou word.