fbpx
Vryheidsfront Plus

Munisipaliteite nie in staat om informele nedersettings te beheer nie (Debat in parlement: Opgradering van informele nedersettings om inklusiewe en volhoubare menslike nedersetting in stede te skep)

Nie munisipaliteite of die staat in Suid-Afrika is in staat om die ontwikkeling van informele nedersettings, wat soos paddastoele regoor die land opskiet, te voorkom of te beheer nie.

Die VF Plus het reeds in 2019 daarop gewys dat duisende hektaar grond om metro’s geleë is, maar nie ontwikkel kan word nie aangesien dit as landbougrond gesoneer is.

Om dit tot residensiële gebied te verklaar, kan tot ses jaar neem. Hierdie tydsduur kan bespoedig word deur toepaslike wetgewing te verander.

Die minister het reeds bevestig dat 14 000 hektaar om die onderskeie metro’s geleë is wat vir verblyf aangewend kan word, maar niks sigbaar het hieroor gebeur nie.

Die grootste rede vir die ongebreidelde opskiet van informele nedersettings was ‘n buitensporige bevolkingsaanwas en instroming oor die laaste dekades.

Laasgenoemde het ook bygedra tot die hoë misdaadsyfer in die land.

Die meeste van hierdie informele woongebiede ontstaan onwettig en munisipaliteite laat dit eenvoudig net toe.

In die meeste gevalle word gebiede beset waar dit moeilik is om dienste te verskaf soos water en krag. Ekologies-sensitiewe gebiede soos vleilande kom ook meermale in die gedrang.

Indien daar wel teen die onwettige besetters opgetree word, is geweldpleging gewoonlik die gevolg. Paaie word versper en wetsgehoorsame persone word die slagoffers in die aangeleentheid.

Dit is ook bekend dat die polisie huiwerig is om in te gryp. Uiteindelik het die situasie ‘n negatiewe impak op die plaaslike ekonomieë.

Wanneer gekyk word na die blitsige tempo waarteen van hierdie informele woongebiede regoor die land groei, is dit moeilik om in te sien hoe daar vir al die mense meer permanente verblyf gebou kan word.

Daar moet nogtans met die situasie gehandel word. ‘n Vertrekpunt is om sonder meer grond te identifiseer wat ontwikkel kan word vir verblyf.

Daar moet innoverend te werk gegaan word om kwaliteit-verblyf aan soveel moontlik mense te verskaf teen lae pryse.

Intussen moet daar steeds by die wet gehou word en streng opgetree word teen onwettige besetters. Gebeur dit nie, gaan ‘n reeds onhoubare situasie totaal buite beheer raak.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.