Die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, se provinsiale rede het weereens beloftes van verbeterde dienslewering en ekonomiese groei bevat. Ongelukkig het daar van vorige beloftes min tereg gekom.
Nuwe werksgeleenthede word ten spyte van die provinsiale regering geskep, nie te danke daaraan nie. Nogtans is dit merkwaardig dat die Noord-Kaap met 22%, tans die provinsie met die laagste werkloosheidsyfer is.
Daar is ook aangekondig dat die afgelope jaar se provinsiale ekonomiese groei 2% (dieselfde as die land in geheel) was en dat 2.7% vir 2023 (in vergelyking met die nasionale koers van 1.7%) verwag word.
Een voorbeeld van private belegging wat 'n verskil maak, is die sowat R400 miljoen wat selfoonmaatskappye aan infrastruktuur bestee het om die provinsiale breëbandstrategie te bevorder.
Die provinsiale dienste met die grootste invloed op gewone mense se lewe is onderwys, paaie en gesondheid. Die toestand hiervan wissel van onbevredigend tot beroerd.
Hoewel sommige paaie in ‘n goeie toestand is, is die hoofroetes van myne rondom Kathu na die uitvoerhawens ontoereikend vir die swaar vragte wat dit tans moet dra.
Groot dele van hierdie roete word nou na Sanral oorgedra, wat gevolglik 'n Noord-Kaapse kantoor gaan vestig. Dit behoort die las op die provinsie te verlig.
Verder word grondpaaie selde geskraap en is in sommige gevalle onbruikbaar.
Die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement haal gewoonlik die nuus om die verkeerde redes.
Die infrastruktuur van provinsiale hospitale is oorwegend goed, maar die administratiewe ondersteuning ontbreek in baie gevalle. Saul gee egter die versekering dat hierdie toestand besig is om te verbeter.
'n Aankondiging dat die Vendanta-myn by Aggeneys 'n onkologie-afdeling by die Springbok-hospitaal gaan ontwikkel, onderstreep die provinsiale regering se onvermoë.
Klinieke laat oor die algemeen veel te wense oor, wat veral in afgeleë nedersettings 'n krisis skep.
Ná afloop van onlangse voorkombare sterftes weens 'n gebrek aan ambulanse, het Saul aangekondig dat nuwe ambulanse die afgelope week afgelewer is. Hier is volgehoue onderhoud die sleutel.
Noord-Kaapse skole wissel van uitstekend tot bykans disfunksioneel.
Sedert 1994, toe dié provinsie die hoogste matriekslaagsyfer in die land gehad het, is afwaarts gevorder tot 'n gereelde laaste plek. In 2022 is daardie twyfelagtige eer vir die voorlaaste plek verruil.
Saul het verwys na die e-leerstrategie waarvolgens alle skole aan die internet gekoppel moet word. R80 miljoen wat aan tablette vir matrikulante bestee is, is deel daarvan.
Of dit egter met beter onderwys gepaard sal gaan, moet nog gesien word.
Aan die positiewe kant bied die provinsie ruim ontwikkelingsgeleenthede vir hernubare energie en groen waterstof.
Die provinsiale regering is aktief betrokke in die skep van infrastruktuur daarvoor.
Die provinsiale konstruksiemaatskappy wat vir projekte van die aard gestig is, het ook heelwat aandag ontvang.
Rakende plaaslike regering, is dit as prestasie aangebied dat alle munisipaliteite in die provinsie hul finansiële state betyds ingedien het. Dit dui op die diepte van die krisis op hierdie gebied.
Wat die Noord-Kaapse provinsiale rede 'n aangename geleentheid maak, is die hoeveelheid Afrikaans ‘n mens hoor. Die provinsie is oorwegend Afrikaans en wie verstaanbaar wil wees, moet die taal praat.
Nog 'n opvallende kenmerk was die teenwoordigheid van die Russiese konsul-generaal, mnr. Aleksei Malenko. Dit is onseker wat in die warboel van Suid-Afrikaanse diplomasie daarvan afgelei moet word.
Hierdie toespraak bevestig die noodsaak om met kaderontplooiing en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) weg te doen en die volle potensiaal van die Noord-Kaap te ontwikkel