Die VF Plus verwelkom die erkenning van die premier van Noordwes, dr. Job Mokgoro, dat die plasing van munisipaliteite onder administrasie in ‘n poging om dienslewering te verbeter en korrupsie te beveg, tot dusver misluk het.
Die premier het tydens ‘n vergadering van die wetgewer vandag (25 Junie 2020) gesê dat hierdie gebruik “‘n omgewing en geleentheid vir korrupte aktiwiteite geskep het”. Hy het voorts gesê “dit blyk dat diegene wat deur die provinsiale regering daargestel is om probleme by munisipaliteite reg te stel, eerder meer probleme veroorsaak”.
Die ouditeur generaal (OG) se verslag oor munisipaliteite wat ook tydens die vergadering bespreek is, wys daarop dat munisipaliteite in Noordwes ‘n astronomiese R227 miljoen aan konsultante bestee het vir die opstel van finansiële state. Dit nou terwyl munisipaliteite self hoogs betaalde finansiële amptenare in diens het.
Die VF Plus is die enigste party wat reeds telkens in die verlede hierdie kwessies in die wetgewer geopper het.
Daar is ook by herhaling versoek dat die provinsiale regering se ingrepe by munisipaliteite eerder moet fokus op die aanstelling van professionele, bekwame amptenare wat verantwoordbaar aan hul gemeenskappe is, en nie op beroepsadministrateurs wat carte blanche het om nuwe stropingskanale te skep nie.
Dit is ‘n skande dat hierdie erkenning eers kom na vele jare en miljarde rande se vermorste geld. Of die ANC die politieke wil het om dit reg te stel, sal gesien moet word.
Navrae: 082 529 3001