Die VF Plus verwelkom die Menseregtekommissie (MRK) se inisiatief om nieregerings- en plaaslike gemeenskapsorganisasies as ‘menseregte-monitors' te betrek om die kommissie te help in sy aanbevelings en bevindings aan die drie regeringsfere rondom die vernietigende besoedeling van die Vaalrivierstelsel.
Die party het reeds in 2019 ‘n voorlegging aan die MRK gelewer waarna die kommissie in Februarie 2021 die Vaalrivierstelsel tot ‘n menseregteskending verklaar en die Emfuleni-munisipaliteit, die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) asook die nasionale departement van water en sanitasie verantwoordelik gehou het vir die totale ineenstorting van Emfuleni se watersuiweringstelsel.
Die rioolbesoedeling is sedertdien onveranderd en die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) kon nie daarin slaag om onverwerkte riool wat vrylik in die Vaalrivier inloop, stop te sit nie.
Die VF Plus het sover gegaan om ‘n strafregtelike klag op 27 Mei vanjaar by die Vanderbijlpark-polisiekantoor in te dien teen die hoofadministrateur, Gilberto Martins, wat verband hou met die rioolstorting.
Die Gautengse departement van omgewingsake se Groen Skerpioene het na aanleiding hiervan Emfuleni besoek om die saak te ondersoek.
Die onvermoë van mnr. Martins om sekerheidsplanne in werking te stel om die tuimelval van die munisipaliteit te keer, is onverskoonbaar en huidige en voormalige administrateurs moet verantwoordbaar gehou word vir hul aksies en ondeurdagte besluitneming.
Die VF Plus spreek die hoop uit dat wanneer die MRK in September met die regering vergader, die voorlegging van só ‘n aard is dat daar onmiddellik opgetree word om die Vaalrivierstelsel van totale ondergang te red.
Die VF Plus sal nie sy druk op die Emfuleni-munisipaliteit, Cogta en die departement van water en sanitasie laat vaar nie en sal seker maak dat inwoners nie langer blootgestel word aan rioolstortings wat ‘n gesondheidsgevaar vir mens en dier inhou nie.
Die inwoners van Emfuleni het in die komende plaaslike regeringsverkiesing die geleentheid om op te staan teen die wanbestuur van dié munisipaliteit en ‘n sterk boodskap aan die ANC te stuur dat gebrekkige dienslewering en die verval van munisipaliteite gestop moet word.
Navrae: 076 6162124