Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus versoek Gautengse LUR vir Cogta om in te gryp by Ekurhuleni se watertekort

Die VF Plus het die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, versoek om dringend die Ekurhuleni-metroraad en Randwater te dwing om duidelikheid te verskaf rondom die huidige watertekort in die gebied.

Die Ekurhuleni-metroraad het op 26 Augustus (verlede maand) in ‘n mediaverklaring inwoners van Germiston, Kemptonpark, Thembisa, Daveyton, Etwatwa en Tsakane gevra om water spaarsamig te gebruik. Die lys van geraakte gebiede het intussen na 29 woongebiede uitgebrei.

Die verduideliking van Randwater dat die vraag na water die toevoer oorskry en dit veroorsaak dat watervlakke kritiek laag is by die Eikenhof-, Palmiet en Mapleton-reservoirs, is onaanvaarbaar.

Die VF Plus is van mening dat die watervoorsieningsprobleme reeds vroeër begin het aangesien verskeie oproepe van ontstelde Germiston-inwoners ontvang is wat aangedui het dat hulle reeds nege dae sonder water is.

Watervloei het gister vir ‘n tydperk teruggekeer, maar die krane het kort daarna weer opgedroog.

Volgens die VF Plus is daar meer agter die watertekort wat Ekurhuleni tans beleef as wat Randwater te kenne wil gee.

Randwater en die metroraad moet oop kaarte speel met die inwoners van Ekurhuleni en die LUR moet druk op die entiteite plaas om kort- en langtermynoplossings te vind om te voorkom dat die huidige krisis weer plaasvind.

Watervoorsiening is volgens die Grondwet ‘n basiese mensereg en daarom moet die probleem met die nodige prioriteit en dringendheid behandel word.

Die VF Plus sal volgehoue druk op die LUR, die Ekurhuleni-metroraad en Randwater plaas om daadwerklik aandag te gee aan die probleem en dit spoedig op te los.

Navrae: 072 217 1951

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.