Die VF Plus verwelkom die inhegtenisneming van die drie verdagtes wat betrokke was by die Fetakgomo-Groter Tubatse-plaaslike munisipaliteit se wederregtelike belegging van R230 miljoen in die VBS Mutual Bank. Ingevolgde die Munisipale Finansiële Bestuurswet is dit onwettig vir munisipaliteite om geld by ‘n onderlinge bank te belê.
Sewe munisipaliteite in Limpopo, onder meer die Fetakgomo-Groter Tubatse-plaaslike munisipaliteit wat Burgersfort, Ohrigstad en Steelpoort bedien, het miljoene rand in beleggings by VBS verloor wat die agterstand in dienslewering aan inwoners net verder laat vergroot.
Die Fetakgomo-Groter Tubatse-munisipaliteit kon weens die onregmatige belegging nie aan sekere gebiede elektrisiteit verskaf soos aanvanklik beplan is nie en gaan verder gebuk onder talle diensleweringsuitdagings soos gemeenskapsonrus, finansiële beperkings en interne arbeidsprobleme.
Die VF Plus het na die onlangse plaaslike regeringsverkiesing vir die eerste keer ‘n raadslid in die Fetakgomo-Groter Tubatse-plaaslike munisipaliteit wat ten nouste sal toesien dat die munisipaliteit aan die toepaslike wetgewing voldoen en dat inwoners die dienslewering ontvang waarvoor hulle ten duurste betaal.
Getroue belastingbetalers word reeds vir jare gyselaar gehou deur korrupte regeringslui en ander rolspelers wat hulself wederregtelik verryk met belastingbetalersgeld sonder om strafregtelik aanspreeklik gehou te word.
Die VF Plus verwelkom daarom die feit dat amptenare uiteindelik tot verantwoording geroep word en sal wil sien dat dieselfde gebeur met amptenare in ander munisipaliteite in die provinsie wat dink belastingbetalersgeld is daar om geplunder te word vir eie gewin.


